full screen background image
Osie-skoolhoof, Gideon Pelzer wens elke leerder en leerkrag voorspoed toe as deel van die skool se 45ste verjaardag.

Gideon Pelzer aan stuur van tradisieryke skool

177

Die stuurman van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool), Gideon Pelzer werk onverpoos om die skool se daaglikse funksionering te koördineer en streef daarna om ‘n sigbare nalatenskap vir die toekoms te vestig.
Pelzer, wat saam met sowat
1 300 leerders Oosskool se 45ste verjaardag vier, het leerders en personeel vreugde en vrede toegewens. “Ek wens julle net die beste toe en hoop dat elkeen die geleentheid sal aangryp om op elke terrein hoër hoogtes te bereik.”
Hoewel Pelzer nog net 18 maande aan die stuur van die skool is, beskryf hy Oosskool se geskiedenis as glorieryk met vele hoogtepunte. “Dit is ‘n dinamiese skool wat voortdurend groei. Leerders en onderwysers het in die verlede en sal vir die volgende 45 jaar steeds daarna streef om te verbeter.”
Pelzer is opgewonde en optimisties oor die skool se toekoms en sê hy vertrou dat die Here die skool genadig sal wees sodat hulle bly groei, nie net in getalle nie maar ook in karakter, sodat Oosskool die beste vir elke leerder kan bied.
“Integriteit, eerlikheid en opregtheid is pilare van die nalatenskap wat ek graag wil vestig. Dit is nie net ‘n skoolhoof se droom om diep spore in ‘n skool en die gemeenskap se lewens te trap nie, maar elke onderwyser wat hard werk om leerders se individuele eienskappe en talente ten volle te laat ontwikkel. Ek wil kan terugkyk en tevrede wees met die norme en waardes wat gestel is en sonder twyfel weet dat dit sal voortleef,” sê Pelzer.
Oor tradisies is hy baie ernstig. “Tradisies is dit wat dié skool van ander onderskei en uniek maak. Wanneer ouers en die gemeenskap inkoop in tradisies het jy ‘n skool waar leerders gelukkig is en presteer.”
Volgens hom moet nie net hy en onderwysers die skool se missie en visie energiek uitleef nie, maar ook elke leerder sodat dit aansteeklik vir ander is.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com