full screen background image

Gewapendes brand los op GPF, polisie

428

Die skote wat Saterdagoggend tussen gewapendes, lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sekuriteitsbeamptes en polisie geklap het, is klaarblyklik net nog ‘n toevoeging tot ‘n reeks misdade deur ‘n bende wat glo besighede in Laboria, Industria, Ladanna en Ladine sedert verlede week teiken.
Tydens die nuutste voorval het die inbrekers Saterdagoggend op GPF-lede en ‘n sekuriteitsvoertuig in Tinstraat losgebrand en daarna weer op die polisie op die Mogwadi­pad. ‘n Lid van die GPF, wat anoniem wil bly en ook onder die spervuur was, het die voorval as ‘n mini-oorlog beskryf. “Vier verdagtes het glo ‘n sekuriteitswag by ‘n fabriek in Fosfaatstraat vasgebind en by die gebou ingebreek. Van daar is hulle na ‘n fabriek in Tinstraat waar hulle ook ingebreek het. Die sekuriteitswag in Fosfaatstraat het homself bevry en hulp gaan soek terwyl die GPF ‘n oproep oor die inbraak in Tinstraat ontvang het.”
Die inbrekers het op die sekuriteitsvoertuig, wat na Tinstraat ontplooi is, losgebrand. Lede van die GPF wat agter die sekuriteitsvoertuig gery het, het uit hul voertuie geklim om skuiling te soek en volgens inligting teruggeskiet.
“Die skurke is die bosse in waarna hulle weer op die Mogwadipad aangekeer is en ‘n tweede skietery ontstaan het. Hulle het uiteindelik van die polisie ontvlug.” Die bron sê volgens kamerabeeldmateriaal is die verdagtes met ‘n .303-jagge­weer en ‘n AK47-aanvalsgeweer gewapen en patroondoppies van dié twee wapens is op die toneel gevind. Hy sê dit is vermoedelik dieselfde groep wat verlede Woensdag in Industriastraat op sekuriteits­wagte losgebrand het. Maandagog­gend is daar glo ook op ‘n vragmotor in Yster­straat geskiet.
Westenburg-polisiewoordvoerder, Maphure Manamela het die voorval bevestig. “Ons kan nie bevestig dat dit ‘n bende is nie, maar die moontlikheid dat hulle (dieselfde groep mense) met verskeie onlangse voorvalle verbind word, word ondersoek.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com