full screen background image

Gesinsgeweld neem toe tydens veldtog

285

‘n Pa wat na bewering sy vyfjarige dogter verkrag het, ‘n ma en haar twee kinders wat herhaaldelik met messe gesteek is en ‘n tweejarige wat sonder toesig weggedwaal het en gevolglik dood is, plaas ‘n klad op die vieringe van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders in Limpopo wat tans plaasvind.
Na die nuutste voorvalle het die polisie hul kommer oor die styging in gesinsgeweld uitgespreek. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe die polisie veroordeel die gru-dade ten sterkste.
Hy verduidelik dat ‘n 35-jarige man Sondag op aanklag van beweerde verkragting in Hoedspruit gearresteer is. “Die ouers is geskei, maar deel toesig oor hul twee kinders. Die kinders was vir die naweek by die pa en die meisie het haar ma na bewering vertel dat sy deur haar haar pa verkrag is toe sy (die ma) die kinders Sondag gaan haal het,” vertel Ngoepe.
Die saak is dadelik by die polisie aangemeld en die pa gearresteer. Hy sal binnekort in die Lenyenye landdroshof verskyn.
Intussen is ‘n 31-jarige man aangekeer nadat hy Sondag glo sy 25-jarige vrou en hul twee kinders verskeie kere met ‘n skerp voorwerp gesteek het.
Die aanval het by haar huis in die Mpheni-nedersetting buite Waterval plaasgevind.
Ngoepe sê die egpaar het blykbaar ‘n argument gehad waarna die man glo ‘n skerp voorwerp geneem en sy vrou en twee kinders herhaaldelik daarmee gesteek het voordat hy gevlug het. Die kinders is onderskeidelik drie en vyf jaar oud. “Al drie slagoffers is dadelik na ‘n plaaslike hospitaal vervoer waar die vyfjarige aan haar beserings beswyk het. ‘n Soektog na die man is dadelik geloods en hy is Maandag in Thoho­yandou gearresteer,” sê Ngoepe.
Die verdagte is volgens Ngoepe tans op parool nadat hy in 2010 tronkstraf van 15 jaar op ‘n aanklag van moord opgelê is. Hy sal binnekort in die Waterval landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn.
In ‘n derde voorval vroeër die naweek is ‘n tweejarige meisie dood nadat haar ouers, wat volgens bronne waarskynlik dronk was, in die bos naby Witpoort buite Lephalale aan die slaap geraak en sy weggedwaal het. Ngoepe sê ‘n geregtelike doodsondersoekdossier is geopen, maar die ouers kan moontlik van nalatigheid aangekla word.
“Kgola Ntlaleng is Saterdag as vermis aangemeld. Haar besope ouers het met haar en haar vierjarige suster van die dorp af huis toe gestap. Hulle het glo in die bos gerus en aan die slaap geraak. Toe hulle omstreeks 19:00 wakker skrik was Kgola weg,” sê Ngoepe.
‘n Soektog is dadelik deur die polisie se soek- en reddingseenheid, die Witpoort polisie, die honde-eenheid en die lugvleuel van stapel gestuur en die peuter se liggaam is Maandagmiddag, nie ver van waar haar ouers geslaap het nie, gevind.
Intussen word die verdrinking van ‘n agtjarige kind by ‘n vakansie-oord in Senwamokgope, Sekgosese ook ondersoek. Die verdrinking het glo gebeur tydens ‘n dagsorgsentrum se jaarlikse uitstappie en jaareindfunksie.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, Bafana Linda het egpare, ouers en die breë gemeenskap aangemoedig om professionele hulp te soek indien hul probleme ervaar. Hy het ouers ook gemaan om voortdurend te weet waar hulle kinders is en te sorg dat hulle veilig is.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com