full screen background image

Geen einde aan plaaslike, provinsiale renosterslagting

203

‘n Plaaslike fietsryer het glo Maandag in die Polokwane Wildreservaat op die karkas van nog ‘n renoster wat gestroop is, afgekom.
Volgens ‘n bron is die renoster wat verlede jaar as voorkomingsmaatreël onthoring is, doodgeskiet, maar die oorblywende stompie is nie verwyder nie. “Die stropers is vermoedelik gesteur en het gevlug voordat hul die stompie kon steel,” sê die bron.
Vyf renosters is nou in agt maande in die plaaslike reservaat gestroop. Drie is in Junie verlede jaar in die reservaat afgemaai, ‘n vierde een tussen Kersdag en Nuwejaar en die nuutste geval.
Die Polokwane Munisipaliteit se skakelbeampte, Disree Manyane het die nuutste voorval bevestig en gesê ‘n dringende ondersoek is geloods. Daar is ook ‘n saak by die polisie aangemeld.
Manyane kon nie oor die toekoms van die renosters in die reservaat of oor dras­tiese sekuriteitsmaatreëls uitbrei nie. Sy het voorheen gesê dat die munisipaliteit wel ‘n goedgekeurde begroting vir opknapping aan sekuriteit van die reservaat ontvang het. “Om die diere te beskerm kan ons nie die opknapping in detail bespreek nie, maar uitkyktorings is in die reservaat opgerig,” sê Manyane. Sy sê die munisipaliteit sal op gereelde basis met ander organisasies en instansies vir navorsing vergader om alternatiewe te bespreek.
Polokwane-polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
Die polisie het daarin geslaag om Deon en Nick van Deventer en Onwand Muchagowa met die voorval in Desember te verbind. Die trio verskyn Maandag en Dinsdag weer in die Makhado landdroshof in Louis Trichardt waar hulle om borgtog sal aansoek doen nadat hulle in Januarie buite dié dorp aangekeer is toe hul glo ‘n renosterhoring wou verkoop.
Intussen soek die polisie steeds na die verdagtes wat Saterdag twee renosterkalwers op ‘n plaas buite Lephalale geskiet het. Lephalale se polisiewoordvoerder, Frans Mokoena het die voorval bevestig. “Albei leef, maar is getraumatiseer. Die een wat lewendig onthoring is, is in die maag geskiet. Die skurke kon nie daarin slaag om die tweede kalf te onthoring nie,” sê Mokoena.
‘n Bron het bevestig dat dit twee weesrenosters is en dat hul ma’s onlangs ook deur stropers afgemaai is. “Die een kalf het blykbaar gaan lê na hy geskiet is, maar het opgestaan toe stropers sy horing begin afkap het om vermoedelik te probeer wegkom, maar het nog ‘n skoot in die maag gekry,” vertel die bron.
Die ligging van die plaas word weerhou om die diere te beskerm. Beide renosters ontvang tans behandeling.
VIDEO WAARSKUWING: NIE VIR SENSITIE­WE KYKERS NIE!

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com