full screen background image
‘n Foto van Shannon Sacco wat sy voor haar dood met haar ma se selfoon van haarself geneem het.

Gebroke ma wroeg oor dood

1723

“Party dae raak dit so erg dat ek bid en die Here vra vir ‘n droom om net nog één keer met my kind te praat.”
Só beskryf Esmerelda Delport haar emosionele toestand en wyse waarop sy na byna twee jaar steeds haar dogter, Shannon Sacco, se dood probeer aanvaar en verwerk.
Shannon, ‘n leerder van Westenburg Sekondêre Skool ten tye van haar dood, is in Maart 2016 doodgery terwyl sy na skool huis toe gestap het. “Sy sou op 8 Januarie 18 jaar oud geword en vanjaar in matriek wees. Sy was baie lief vir skool en het groot drome gekoester om ‘n model of dokter te word.”
Die dag van Shannon se dood was sy tuis toe ‘n klasmaat haar laat weet het haar dogter is raakgery. “Ek het nie gedink dit is ernstig nie, maar het dadelik skool toe gestap in die hoop dat ek haar op die sypaadjie met kneusplekke op die been of heup gaan kry. Toe ek nader kom en vier ambulanse sien, het ek geweet my kind het baie seergekry.”
Delport onthou hoe haar hele gesig bloedbelope was en dat sy in die hospitaal nog ‘n laaste keer met haar dogter gesels het. “Hoewel dokters gesê het haar brein reageer nie meer nie, kon ek op die hartmonitor sien sy hoor my. Sy is later die aand oorlede.”
Sy kan steeds nie glo Shannon is weg nie en benewens verskeie dinge by die huis wat haar daagliks aan haar dogter laat dink, vererger die sloerdery van die hofsaak die pyn. “Shannon is op 21 Maart begrawe en ek dink die eerste hofverskyning was die volgende dag. Sedertdien was ons seker al 12 keer by die hof net sodat die saak uitgestel word. Ons is gefrustreerd oor die sloerdery want ons kan nie berusting vind en aangaan nie.”
Ramone Heymann is kort na Shannon se dood in verband met die ongeluk aangekeer. Volgens Delport het hy nie by die ongelukstoneel gewag nie en het iemand hom tot by sy huis agtervolg en die polisie in kennis gestel.
Byna ‘n maand na Shannon se dood het Delport besluit om Heymann saam met haar pastoor te besoek. “Ek het nog nooit van hom gehoor nie en ek wou sien hoe lyk die man wat iemand doodry en haar soos ‘n hond langs die pad los. Hy het gehuil en gesê hy is jammer, maar dit bring nie my kind terug nie.”
Die dag voor Shannon se dood het kinders vir haar gesê dat die laer grade nie die Dins­dag hoef skool toe te gaan nie. “Shannon het gegrap dat sy ook by die huis gaan bly. Ek het die hele dag aan haar gekarring om tuis te bly, maar sy wou nie.” Mense meen tyd heel wonde, maar Delport verskil. “Dit bly elke dag seer en moeilik om te aanvaar. Tyd heel nie wonde nie, ‘n mens leer net om met die pyn saam te leef.” Heymann verskyn in Februarie weer in die Seshego Streekhof.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com