full screen background image

Ereveldwagters samel geld in vir Krugerwildtuin

463

Die Limpopo-streek van die SANParke Ereveldwagters het Vrydagaand ‘n funksie by die NG Kerk Bendor gehou ten einde geld in te samel om die Kruger Nasionale Park (KNP) te ondersteun en ook om die gemeenskap bewus te maak van die werk wat die SANParke Ereveldwagters in nasionale parke verrig.
Salmon Joubert, voormalige parkhoof van die KNP, het ‘n praatjie gelewer oor die ge­skiedenis van SANParke Ereveldwagters asook hoe krities die bewaring van die natuurlike omgewing en nasionale parke is.
Chris van der Linde, wat vir 22 jaar ‘n veldwagter in KNP was, het ‘n paar humoristiese ervarings met gaste gedeel. Met die wereldbekerrugby wat tans aan die gang is, het hy ‘n interessante storie vertel van ‘n besoekende Franse rugbyspan, ‘n bakkie met ‘n pap wiel, ‘n groot leeumannetjie en ‘n senutergende nagmars deur ‘n paar benoude Fransmanne.
Chris Coetzer, wat vir 15 jaar gehore vermaak het as lid van die bekende 3 Tenore sangroep het na ete die gaste vermaak met sy unieke stem.
Die funksie is afgesluit met ‘n veiling en die gemeenskap van Polokwane het hulle hande diep in hulle sakke gesteek. ‘n Pragtige landskapskildery van bekende plaaslike kunstenaar, Wessel Cronje, het ook onder die hamer gekom.
Volgens woordvoerder van die ereveldwagters, Derek Venter, is SANParke Ereveldwagters die amptelike SANParke organisasie van vrywilligers. “Ons is ‘n landswye organi­sasie wat in al die nasionale parke van Suid-Afrika werksaam is. Ons gee aan mense en besighede die geleentheid om ons nasionale parke te ondersteun, hetsy geldelik of deur middel van dienste en ons ondersteuning aan SANParke sluit fisiese ondersteuningsdienste in die verskeie parke asook fondsinsameling vir onder andere teenstropingsaktiwiteite in,” vertel Venter.
Lede van die publiek wat graag by die organisasie betrokke wil raak kan meer lees by https://www.sanparksvolunteers.org/. Die Limpopo-streek van die SANParke ereveldwagters vergader elke Donderdag van die maand omstreeks 18:00 by Generaal Piet Joubert Skool.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Sprekers by die ete van die Limpopo-streek van die SANParke Ereveldwagters, Salmon Joubert en Chris van der Linde.

Tenoor Chris Coetzer vermaak gaste by die ete.

Gaste Attie en Skieppie Vermaak kuier saam met ereveldwagter Stefan Bosman.