full screen background image
Simoné en Ignat Oosthuizen was byna drie jaar getroud toe hy op 5 Mei 2015 in ‘n meenthuis in Serala Village doodgesteek is. Inlaste: Simoné Oosthuizen moes noodope­rasies ondergaan om die wonde aan haar hand en arm te heg.

EKSKLUSIEF: Weduwee praat oor gru-nag

2500

Vandag (Donderdag) ‘n jaar gelede is die verhoor van Alex Chauke, wat vir die mesmoord van Ignat Oosthuizen op 5 Mei 2015 in Serala Village aangekla is voortgesit, maar nogeens uitgestel.
Chauke het Maandag weer in die Seshego landdroshof verskyn, maar vir die derde keer sy regsverteenwoordiger in die pad gesteek en die saak is weer uitgestel sodat hy die dienste van ‘n nuwe prokureur kan bekom.
Hy het vermoedelik net voor 03:00 op daardie noodlottige Dinsdag by Ignat en sy vrou, Simoné se meenthuis ingebreek waarna ‘n geveg tussen hom en Ignat ontstaan het waartydens Ignat met ‘n skerp voorwerp onder sy sleutelbeen en in die arm gesteek is en in die voorhuis aan bloedverlies beswyk het. Simoné het ernstige beserings aan haar hand en arm opgedoen.
Byna twee jaar na die voorval het Simoné vir die eerste keer oor die aanval in ‘n eksklu­siewe onderhoud met Polokwane Observer gepraat. “Ek kry steeds nagmerries. Ek droom hulle breek in en vermoor my. Selfs Ignat se geliefde kat, Miemieschke kry nagmerries. Ek verwyt myself, want dit voel of ek meer kon doen om my man se lewe te red. Ek huil soms vir dae aaneen, ry of slaap nie met oop vensters nie en hou altyd pepersproei byderhand.” Sy het ook ‘n fobie vir messe ontwikkel en kon vir lank na die voorval glad nie vleis eet nie.
“Ek was vir baie lank kwaad vir die Here en het baie vrae gehad totdat ‘n vreemdeling eendag vir my gebid het en ek besef het hoe genadig God eintlik is.”
Sy sê die moeilikste dag was toe sy in die hof moes getuig. “Dit is nie lekker om in die hof te sit en in die verdagte se gesig vas te kyk nie. Ek voel eintlik niks vir hom nie en wil net hê geregtigheid moet geskied. Die man se vriende is ook telkens in die hof en fluit heeltyd vir mekaar, seker ‘n roepsein om hulle teenwoordigheid te bevestig,” sê Simoné.
Sy onthou elke detail van wat die aand van die aanval gebeur het. Ignat en ‘n vriend het tot 02:10 televisiespeletjies gespeel waarna die vriend huis toe is en hy gaan slaap het. Twintig minute later het hy besef daar is iemand in hul kamer. “Ignat het ondersoek ingestel en met die inbreker in die kamer begin stoei wat in die voorhuis voortgesit is omdat hy hom by die skuifdeur probeer uitboender het. Ek het die noodknoppie gedruk en Ignat te hulp gesnel wat sekondes later inmekaar gesak het. Toe was dit net ek en hy. Ek was so kwaad dat ek hom kaalvuis aangevat het.”
Sy het hom tot buite gedryf en die skuifdeur toegemaak, maar die aanvaller het haar deur ‘n venster bly aanval. “Ek het ‘n kussing gevat om sy meshoue deur die venster af te weer en die venster toegemaak. Ons het mekaar in die oë gekyk en ek het hom gevra: wat nou?” Die buurman se aankoms het die skurk laat spaander.
Simoné het na Ignat gedraai waar hy op die vloer gelê en Miemieshke by hom gesit het. Hy was besig om sy bewussyn te verloor en is minute daarna dood. Sy moes noodoperasies ondergaan om die wonde aan haar arm en hand te heg.
Simoné en Ignat was vir byna drie jaar getroud en het mekaar sewe jaar geken. Hy sou Woensdag 32 jaar oud geword het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com