full screen background image
Tiaan Lee, eerste hoofseun van Oosskool in 1972.

Eerste Oosskool-hoofseun vertel van kindwees, skooljare

101

Tiaan Lee se naam verskyn in die geskiedenisboeke as eerste hoofseun van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) nadat hul deure in 1972 amptelik geopen het.
Laerskool Pietersburg-Noord Primary (Noordskool) was destyds die gewildste laerskool in die stad, maar die departement van onderwys het besluit dat kinders aan die oostekant van Potgie­terlaan by die nuwe skool moet inskryf, vertel Lee wat tans ‘n leerkrag by Hoërskool Pietersburg (PHS) is.
“Verskeie leerders van Noordskool en Pietersburg Laerskool (Suidskool) moes Osies word. Ek kan nog goed onthou hoe die stoele en tafels afgelewer is en ons graad 7-seuns dit een Saterdag saam met die hoof, Rol du Preez aanmekaar moes sit.”
Hy vertel van die rugbyveld wat beplan is waar net bos en veld was wat aan die brand ge­steek is. Die seuns het groot pret gehad met die muise wat uit die brandende veld gevlug het en het die meisies daarmee verwilder.” Hy verwys ook na die huidige drieverdiepinggebou wat destyds net twee klaskamers per verdieping gehad het en sê hulle was 37 graad 7-leerders.
Hy sê destyds was sy plig as hoofseun om polisieman te speel. “Ek en die hoofmeisie, Lizbe Pienaar (Stofberg) moes leerders van die stoepe afhou, kyk dat hulle nie baklei nie en soggens en smiddae die landsvlag hys en stryk. Vandag het hoofleiers baie meer verantwoordelikhede en word meer volwassene hanteer.”
Dit was vir hom prysenswaardig dat die skool reeds in sy eerste bestaans­jaar ‘n rugby-, netbal- en atletiekspan gehad het. “Ek het toe reeds tot die finale proewe vir die destydse Verre Noord-rugbyspan deurgedring. Daar was nie geld vir rugbytruie nie en ons moes in ons atletiekhemde speel. In daardie beginjare het ons klompie leerders hegte bande gesmee wat tot vandag gekoester word.”
Lee sonder die voorreg wat hulle destyds gehad het om kind te wees en te speel as die beste van sy laerskool- en selfs hoërskooldae uit. “Ons het nog gejol. Rugby, kar-kar, ‘rounders’ en kleilat sorgeloos buite gespeel en in die strate gestap en geweet niks sal met ons gebeur nie. Jou ouers het jou net in die huis gekry wanneer dit donker geword het. Vandag se kinders sal hulle doodlag. Tye het verander en kinders kan nie meer buite speel nie omdat dit te gevaarlik is.”
Hedendaagse kinders is vandag met tegnologie en sosiale media in ‘n wêreld so groot soos hul iPhone of tablet vasgevang, reken hy. “Tegnologie het wel sy voordele en het ‘n geweldige positiewe impak op onderwys gemaak omdat dit op ‘n manier aangebied word wat vir vandag se leerders verstaanbaar is.”
Lee is jammer dat die tugstelsel verander het. “Ons het baie slae gekry, maar nie een is doodgeslaan nie omdat ‘n kind nou en dan ‘n goeie pak nodig het. Vandag se strafstelsel is in lyn met die tipe kind wat onderrig word omdat hulle op ‘n meer volwasse manier leer dat daar gevolge vir hul dade is. Kinders het ook ‘n openhartige verhouding met onderwysers, bevraagteken jou les en kan met vrymoedigheid kommunikeer. Lank terug was jy bang vir ‘n onnie.”
Lee het in 1977 aan PHS matrikuleer waarna hy onderwys aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer het en daarna weermag toe is. Sy eerste pos was by Hoërskool Westvalia in Klerksdorp waarna hy in 1987 by PHS aangesluit het.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com