full screen background image
Die leeu wat vermoedelik Maandagaand by ‘n lodge in Alldays vergiftig is, se kop en pote is gister (Woensdag) in besit van ‘n 31-jarige verdagte gevind.

Een vas vir dood van leeu

616

‘n Verdagte wat moontlik met die vergiftiging en skending van ‘n leeu by Ingogo Safari Game Lodge in Alldays verbind word, is gister (Woensdag) in besit van ‘n leeukop en -pote in hegtenis geneem.
Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê die 31-jarige verdagte is in Alldays aangekeer en sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn.
“’n Leeu se kop en vier pote is in sy besit gevind. Hy was saam met drie ander verdagtes wat daarin geslaag het om te vlug toe die polisie toeslaan het,” sê hy. Die ander drie was vanoggend (Donderdag) nog op vrye voet.
Die arrestasie volg nadat drie leeus glo Maandagaand met ‘n besmette hoender vergiftig en een se kop en pote afgesny is. Die leeus is Dinsdag gevind waarna ‘n veearts na die toneel ontbied is om die twee leeus wat oorleef het, te behandel.
Die polisie ondersoek steeds ‘n saak waar drie leeus verlede Donderdag ongeveer 20 km buite Polokwane doodgemaak is. Twee  mannetjies se koppe en pote is verwyder. ‘n Derde leeu, ‘n wyfie, is ook doodgemaak maar nie geskend nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com