full screen background image

Een brand dood toe klubhuis vlam vat

442

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

‘n Zimbabwiese man het verlede Woensdag doodgebrand toe die Bushveld Model Racing Club se klubhuis oorkant die ou Peter Mokaba Stadion aan die brand geslaan het.
Peter Janse van Vuuren, tesourier van die klub sê ‘n persoon wat in die nabygeleë gimnasium geoefen het, het een van die klublede geskakel om te sê die gebou brand.
“Lede het na die klubhuis gehaas en die nooddienste is ontbied. Die gebou wat uit ‘n klein kamertjie en ‘n stellasie bo-op bestaan het, is verwoes. Die stellasie is gebruik as basis waarvandaan klublede hul modelmotors beheer het. Nadat die vlamme geblus is, het nooddienswerkers die liggaam van Emmanuel Muju onder die puin ontdek,” sê Janse van Vuuren.
Die klub het die afgelope tyd gereeld onder inbrake en diefstal deurgeloop.
“Selfs die spreiligte is onlangs gesteel en klublede kon niks in die klubhuis los nie weens die fait dat dit dalk gesteel kon word. Die klub het ‘n ooreenkoms met Muju aangegaan om die plek op te pas in ruil vir slaapplek,” sê Janse van Vuuren.
Hy sê Muju was ‘n wettige immigrant en werker in Suid-Afrika wat snags die klubhuis opgepas en bedags ander werk gedoen het.
Die vermoede is dat Muju kos gemaak het omdat hy ‘n tweeplaatstoof gehad het.
“Hy het vermoedelik kos op die stofie gesit en aan die slaap geraak. Die kos moes vlam gevat het terwyl hy geslaap het. Sy liggaam is in ‘n tipiese slaapposisie gevind,” sê Janse van Vuuren.
Hy beskryf dit as ‘n groot skok vir die klub omdat Muju ‘n groot aanwins tot die klub se veiligheid was. Sy familie is reeds in kennis gestel. Polokwane polisiewoordvoerder Lesiba Ramoshaba het die voorval bevestig. ‘n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.