full screen background image
Tommies se nuutverkose beheerliggaamvoorsitter, Eben Potgieter. Foto: Verskaf

Eben Potgieter wil Tommies help vlerke sprei

991

“As ‘n leerder ‘n tegniese beroepsrigting wil kies en hy doodseker wil wees dat die fondament deeglik gelê word, moet Hoër Tegniese Skool Tom Naudé die skool van keuse wees.”
So meen Tommies se nuutverkose beheerliggaamvoorsitter, Eben Potgieter wat saam met sy komitee sowel as die hoof, Piet Holtzhausen en adjunkhoof, Vanessa Kachelhoffer ‘n gedugte span vorm wat hul passie vir onderwys tot voordeel van die leerders wil uitleef.
“Daar kleef ongelukkig ‘n stigma aan tegniese skole oor ‘n wanpersepsie. Ons wil dit verander deur die gemeenskap te betrek sodat hulle self kan sien wat onderrig in ‘n tegniese skool behels en ons Tommies gesamentlik na hoër hoogtes kan lei,” meen Potgieter wat die beheerliggaam se akademiese portefeulje behartig.
Leerders verdien volgens hom net die beste onderrig omdat wiskunde en fisiese wetenskap verpligte vakke is wat die studie­rigting soveel moeiliker maak. Deel van Tommies se beplanning is om spesialisonderwysers te werf en leerkragte vir tegniese wiskunde en -wetenskap aan te stel sodat hulle spesifiek op dié kurrikulum fokus.
“Ons beplan ook om plaaslike ambagkenners in die bedryf op ‘n gereelde basis na die skool te nooi om onderwysers te help toesien dat die leerders die beste vaardighede aanleer. Ons gaan ook met die plaaslike industrie hande vat om te verseker dat elke Tommie wat nie verder studeer nie, na graad 12 by ‘n werk kan instap.”
Potgieter is opgewonde om saam met die ander komiteelede te werk. “Met die uitsondering van een lid het almal al op ‘n beheerliggaam gedien en weet wat van hulle verwag word. Ek vertrou dat ons werklik ‘n verskil by Tommies gaan maak. Die skool en leerders is in ons en die personeel se sorg geplaas en ons sal net doen wat tot hul voordeel is.”
Hul beoog ook om voort te bou op Tommies se ryk tradisies en daagliks vooruitgang in die skool te bewerkstellig.
Die komitee bestaan uit Piet Holtzhausen (hoof), Eben Potgieter (voorsitter), Karel Bezuidenhout (ondervoorsitter), Chrisna Cilliers (tesourier), Henriëtte Matthee (sekretaresse), Jaco Logtenberg (sport), Pieter Retief (terrein en koshuise), Pieter Holtzhausen (geboue) Enid Erasmus (bemarking), Len Fielding en Harry Strauss (onderwyskomponent).

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com