full screen background image
Links: Abel Modiba. Middel: Elia Makgaba. Regs: Thomas Nkuna.

Drie verdagtes ontsnap uit polisie-aanhouding

551

Die polisie is op soek na drie verdagtes wat Vrydagaand uit die Haenertsburg polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap het.
Een van die drie is in Januarie in verband met die aanval op Richardt en Anita Wiggil­l, wat in Haenertsburg plaasgevind het, aangekeer.
Provinsiale polisiewoordvoer­der, Moatshe Ngoepe, sê die polisie het tydens ‘n roetine-inspeksie Saterdagoggend besef dat die drie mans verdwyn het. Die ontsnaptes is Thomas Nkuna en Abel Modiba wat elk op twee aanklagte van huisbraak en roof tereg staan en Elia Makgaba wat van gewapende roof aangekla is. ‘n Klag van ontsnapping sal by die drie se klagstate gevoeg word.
“Omstandighede rondom die ontsnapping word steeds ondersoek en enigiemand met inligting kan die Haenertsburg polisiestasie by 082 565 8191 skakel. Indien die verdagtes iewers opgemerk word, kan dit by die naaste polisiestasie aangemeld word,” sê Ngoepe. Die Wiggills is in Januarie op hul plaas in Haenertsburg aangeval, vasgebind en erg aangerand. Van hul besittings en hul bakkie, wat later teruggevind is, is gesteel.
Die polisie het enkele dae na die voorval drie verdagtes vasgetrek terwyl ‘n vierde een op vrye voet was. Die vierde verdagte is later tydens ‘n operasie in Ritavi aangekeer.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com