full screen background image

Drie soek na gewapende rooftog

315

Lede van die polisie en Sektor 4 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het gisteroggend (Woensdag) die veld langs die R71 Tzaneenpad tussen die Serala View-sekuriteitskompleks en Dalmada gefynkam op soek na drie verdagtes wat vir ‘n voorval vroeër die oggend by Sand Hawks verantwoordelik was.
Polokwane-polisiewoordvoerder, Ntobeng Phala het die rooftog bevestig en gesê drie rowers het omstreeks 01:00 die sekuriteitswag by die maatskappy gekonfronteer en met ‘n vuurwapen aangehou.
“Die rowers het die wag glo beveel om hulle na die stoor waar die vragmotorbande gehou word, te vergesel waar hy vasgebind is en hulle 20 bande die veld ingedra het,” sê Phala.
Die polisie is ongeveer 05:00 van die voorval verwittig. Die sekuriteitsbeampte het verduidelik waar die rowers die veld in is en ‘n soektog is geloods.
“Vyftien bande en ‘n vuurwapen is in die veld gevind. Die ondersoek en soektog duur voort,” het Phala teen druktyd gesê.
Intussen het Sektor 4 GPF-voorsitter, Johan Spaumer gesê hy is bewus van bewerings oor ‘n verdagte Nissan X-Trial wat verlede week moontlik in ‘n rooftog gebruik is. Phala kon nie die betrokke voorval bevestig nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com