full screen background image

Drie botsings, 12 dood

490

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Twaalf mense is die naweek in twee afsonderlike botsings op die provinsie se paaie dood.
In die eerste botsing Sondag is 11 mense dood en ‘n baba van drie weke is ernstig beseer toe ‘n Toyota Fortuner net buite Marble Hall teen ‘n bakkie wat werkers vervoer het, gebots het.
Volgens die departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se woordvoerder, Kagiso Mootane het die bestuurder van die Fortuner vermoedelik ‘n ander voertuig op ‘n onveilige manier verbygesteek toe die botsing plaasgevind het.
Intussen is ‘n 14-jarige leerder dood na ‘n botsing tussen twee minibustaxi’s op die Houtbosdorppad naby Ga-Kama in die Mankweng-omgewing.
Polisiewoordvoerder, Matimba Maluleke sê al die insittendes en beide bestuurders van die taxi’s ernstig beseer is.
“Ons vermoed een van die taxi’s se bestuurder het ‘n ander voertuig verbygesteek en trompop teen ‘n aankomende taxi gebots. Beseerdes is na die Mankweng Provinsiale Hospitaal vir behandeling geneem. ‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek,” sê Maluleke.
Die Demokratiese Alliansie (DA) monitor tans die situasie in Modimolle nadat ‘n vragmotor wat glo 28 000 liter swaelsuur vervoer het, omgeslaan het en die suur in die Nylrivier gestort het.
Woordvoerder van die Modimolle Munisipaliteit, Patrick Shika sê ‘n spesialismaatskappy is reeds Maandag aangestel om die rivier skoon te maak.
Die DA se woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme, Langa Bodlani het in ‘n persverklaring gesê die party sal aanhou om die situasie te monitor totdat die rivier veilig en skoon verklaar word.