full screen background image

Dorijke du Toit ryg A-simbole in tydens kunsfees

789

RC Myburgh

Al wanneer Dorijke du Toit, ‘n 11-jarige graad 6-leerder van Curro Heuwelkruin nie ‘n antwoord het nie, is wanneer sy nie woorde kry om te beskryf hoe baie sy kultuur geniet nie.
Die sprankelende uitblinker gesels maklik en is dit geen uitsondering dat sy uitmuntend tydens vanjaar se onlangse Tzaneen Eisteddfod en Bosveld Kunsfees presteer het nie.
Tydens die twee kompetisies het
Dorijke aan 13 items, onder andere gedramatiseerde poësie en prosa, mo-noloog, formele poësie en prosa, mimiek en groepwerk deelgeneem en nege A+++- en vier A++-simbole verwerf. Verder word sy ook as graadwenner aangewys en ontvang die afgelope drie jaar die Kruinie-kultivaria-trofee en is die afgelope twee jaar Kruinies se Kultuurster van die Jaar.
Verlede jaar het Dorijke aan 12 items tydens dié kompetisies deelgeneem en verwerf tien A+++- en twee A++-simbole. Sy ontvang verder die ambassadeurstoekenning van die Nasionale Eisteddfod Akademie (NEA) en word genooi om tydens die NEA se gala-aand by die Atterbury Teater in Pretoria op te tree.
“Ek was ‘n baie skaam meisie wat in graad 3 vir die eerste keer op die verhoog geklim het. Daar en dan het ‘n wonderwerk gebeur want daarna kon ek nie genoeg kry nie. As ek nou op die verhoog staan, voel ek die ‘magic’ van die gehoor. Dit gryp my hart aan en ek wil net aanhou totdat iemand my van die verhoog afjaag,” sê Dorijke.
Haar gunstelingitems is gedramatiseerde poësie en prosa en monoloë. Sy het vanjaar ook aan onvoorbereide items begin deelneem en geniet elke oomblik daarvan.
“Die ervaring gee ‘n mens selfvertroue. Om aan kultuur deel te neem, gee jou die vrymoedigheid om met enige mens of gehoor te kommunikeer. As ek terugkyk na waar ek drie jaar gelede was en hoe ek gevorder het, is dit die beste medisyne vir enige teruggetrokke persoon om uit sy kassie te klim,” meen Dorijke.
Sy sê ‘n goeie presteerder op kulturele gebied het selfvertroue, helder denke, die moed om nooit op te gee nie en is ‘n harde werker. Oor foute op die verhoog sê sy: “Ek het al my woorde vergeet, maar bly kalm en improviseer totdat ek weer op die regte spoor kom.”
Haar stokperdjies weerspieël haar liefde vir kultuur. In haar vrye tyd skryf sy graag haar eie gedigte en kortverhale wat handel oor liefdesdramas tot misdaad. “Ek lees ook baie en kyk graag rolprente. Dit is immers waar ek my idees vir my eie boeke en gedigte kry,” sê Dorijke.
Alhoewel sy nog ‘n paar jaar op die skoolbanke oor het, het sy reeds besluit om na skool drama te studeer, ‘n reeks van haar eie boeke te publiseer en sê skertsend dat sy dalk die volgende Charlize Theron kan wees.