full screen background image
Gerhard Steenkamp is Vrydag in die Seshego Streekhof tot vyf jaar opgeskorte gevangenisstraf op aanklagte van diefstal en bedrog gevonnis.

Diefstal, bedrog lei tot vyf jaar-vonnis

822

Gerhard Steenkamp is Vrydag in die Seshego Streekhof tot vyf jaar gevange­nisstraf op aanklagte van diefstal en bedrog gevonnis.
Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie weer skuldig bevind word aan diefstal en/of bedrog nie en dat hy die klaer, Louis van Niekerk vergoed.
In die klagstaat word dit gestel dat Steenkamp as senior­bestuurder by Van Niekerk werk­­saam was en verantwoordelik was vir die invordering van huurgeld van geboue wat aan Van Niekerk behoort het.
“Die beskuldigde is aangesê om ‘n nuwe bankrekening te open sodat die huurinkomste daarin betaal kon word en daar is verder ooreengekom dat die totale bedrag aan die klaer oorbetaal sal word sodra al die huurgeld deur die beskuldigde gevorder is,” lui die klagstaat.
Steenkamp het nooit ‘n rekening geopen nie, maar die huurgeld van Februarie 2013 tot November 2014 vir die bedrag van
R935 351,50 in sy rekening ontvang en slegs R428 200 aan Van Niekerk oorbetaal. Die twee partye het ook ‘n ooreenkoms gehad dat Steenkamp vir uitgawes soos brandstof gedurende sy pligte om huurgeld te vorder, vergoed sal word, maar het huurgeld ten bedrae van R39 737,99 vir sy brandstofuitgawes gebruik en is dus dubbeld vergoed.
Steenkamp is aan diefstal van R507 151,50 synde die uitstaande bedrag wat nooit aan Van Niekerk oorbetaal is nie, en R39 737,99 vir die brandstofgeld, sowel as bedrog wat spruit uit die brandstofbetalings skuldig bevind.
Hy moet Van Niekerk vanaf 1 Mei maandeliks R4 500 vir 12 maande betaal, waarna die betaling in 2018 tot R5 500 sal styg. Daarna sal die maandelikse betaling elke jaar tot en met 2021 met R1 000 verhoog word. Die somtotaal van terugbeta­lings is R390 000 en Van Niekerk sal gevolglik skade van meer as R120 000 lei. Van Niekerk het aan Polo­kwane Obser­ver gesê hy is gelukkig om “darem iets terug te kry.”
Dié betalings moet aan die klerk van Se-­s­he­go Landdroshof gemaak word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com