full screen background image

Dian Basson herstel goed

951

Dian Basson, die graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) wat verlede Maandag op die Modjadjiskloofpad sowat 15 km van sy ouerhuis in ‘n motorongeluk beseer is, is uit Mediclinic Limpopo se intensiewe­sorgeenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas.
Sy ma, Jeanette sê, dit gaan baie goed met hom. “Dokters is tevrede met sy herstelproses en hy is tans op sterk medikasie. Hy sal moontlik vandag (Donderdag) of môre (Vrydag) geopereer word om die breuke aan sy hand en arm te herstel,” sê Jeanette.
Sy sê Dian se koors is wel nog bietjie hoog, maar dokters monitor dit noukeurig.
Dian het vermoedelik vir iets in die pad uitgeswaai en beheer oor die Toyota bakkie verloor wat toe omge­slaan het.
Hy is ernstig beseer en het verskeie breuke opgedoen. Hy het ook bloeding op die brein gehad en is na die ongeluk in die intensiewesorgeenheid opgeneem en aan lewensondersteunende masjiene gekoppel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com