full screen background image
Die motor waarin Dawid en Christian dood is. Inlas: Neefs en boesemvriende, Dawid Mostert en Christian Smit, is Saterdag in ‘n motorongeluk in Ladanna dood.

Dawid Mostert, Christian Smit onafskeidbaar tot die dood

610

Die gesegde “soos battery and torch” is op almal se lippe wanneer daar van die twee neefs, Dawid Mostert (26) en Christian Smit (17), wat Saterdagaand in ‘n motor­ongeluk in Ladanna dood is, gepraat word.
Beste vriende, onafskeid­baar en groot mans met klein hartjies is nóg enkele wyses waarop familie en vriende hulle beskryf. Dié twee was nie net neefs nie, maar ook boesemvriende.
Dawid en Christian was Saterdagaand glo op pad na ‘n braai by vriende buite die stad toe ‘n sekuriteitsmaatskappy se bakkie op die hoek van Witklip- en Doorn­kraalstraat teen hul voertuig gebots het.
Drie ander insittendes, Angelique Jacobs, Adriaan Horn en Christian se oom, Hennie Smit was ook in die motor en het veelvuldige beserings opgedoen.
Volgens Christian se skoonsuster, Mariska de Beer, is Horn steeds in die intensiewe sorgeenheid van ‘n plaaslike hospitaal.
Die neefs was beide by Christian se pa se plaaslike hidrouliese besigheid werksaam.
“Christian was baie spontaan met ‘n rustige geaardheid en hy het baie vriende gehad. Hy was iemand wat vinnig by enige geselskap kon inpas en mense het oor die algemeen van hom gehou,” sê De Beer.

Die Fidelity Security-bakkie wat glo in Mostert se motor vasgery het.

Dawid se suster, Rina van Zyl sê haar broer was meeste van die tyd in ‘n goeie bui en het altyd tyd gehad om ‘n grap te maak.
“Hy was ‘n groot man met ‘n baie klein hartjie en sy behulpsaamheid is iets wat almal sal bybly. Hy was die tipe mens wat homself tekort sou doen om ander te help. Hy en Christian was die lig in baie mense se lewens en hul dood laat ‘n groot leemte,” sê sy.
Dawid en Christian was ook lede van die Ladanna GPF en voorsitter Johan Duvenhage sê Dawid het byna nooit kwaad geword nie en was altyd die een wat eerder die vrede sou bewaar as om te baklei. “Hy het altyd ‘n grap gehad om te vertel of om die humor in ernstige situasies raak te sien. Hy en Christian was altyd bereid om te in te spring waar die GPF hulp nodig gehad het. Christian was weens sy ouderdom net nie op alle tonele toegelaat nie,” sê Duvenhage. Ladanna GPF help ook met die begrafnisreëlings.
Duvenhage was Saterdagaand op die ongelukstoneel en sê die twee neefs is op die toneel dood. ‘n Derde voertuig wat in ‘n nabygeleë parkeerarea gestaan het is ook deur hul voertuig na die impak met die bakkie getref.
Wahl Bartmann, hoofuitvoe­rende beampte van Fidelity Security, het in ‘n persverklaring bevestig dat een van hul voertuie in die botsing betrokke was en gesê die maatskappy gee hul volle samewerking aan die polisie.
Hy het die maatskappy se innige meegevoel teenoor die oorledenes se familie en vriende uitgespreek. Bartmann het ook gesê dat Fidelity Security nou saam met die GPF werk om die omgewing te beveilig en dat Mostert en Christian se entoesiasme gemis sal word.
Westenburg polisiewoordvoer­der, Mpandeni Nkuna, sê ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek. Hy wou nie oor die oorsaak van die ongeluk bespiegel nie en sê dit vorm deel van die ondersoek.
Die twee laat onderskeidelik hul ouers, broers en susters agter. Hulle word môre (Vrydag) om 10:00 vanuit die Agapé Christengemeente in Kiddsrylaan, Ivydale begrawe.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com