full screen background image
Daniel Swarts is PHS se top akdemiese leerder en uitblinker op sport- en kultuurgebied.

Daniel vir nege jaar lank akademiese voorloper

311

Graad 12-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), Daniel Swarts, het gedurende sy skoolloopbaan nuwe betekenis aan veelsydigheid gegee deurdat hy daarin kon slaag om ‘n perfekte balans tussen sport, kultuur en akademie te handhaaf. Hy het van graad 4 tot 12 as top akademiese leerder in sy onderskeie skole uitgeblink en ook op sport- en kultuurgebied naam gemaak.
Daniel is tydens PHS se onlangse prysuitdeling as top akademiese leerder met 94,7% aangewys en het ook die toekenning as Dux-leerder ontvang. Benewens dit het hy vakpryse in lewenswetenskappe (94%), fisiese wetenskappe (96%) en lewensoriëntering (97%) losgeslaan en die hoogste gemiddelde in lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe en wiskunde gehandhaaf.
Die lys van toekennings eindig nie daar nie en Daniel ontvang ook die Tukkie-toekenning as top graad 12-leerder wat aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer en beplan om hom in veeartsenykunde te bekwaam. Hy spog ook met die Beheerliggaam-toekenning vir sy besonderse prestasies op alle gebiede en hy word as Seunhokkiespeler van die Jaar aangewys nadat hy 42 doele van die eerstespan se 91 doele vanjaar aangeteken het.
Op kultuurgebied is hy vir sy veelsydigheid vereer omdat hy vir vyf jaar lank elke jaar aan verskeie kultuuraktiwiteite deelgeneem het.
Die uitblinker se lang lys van prestasies sedert sy laerskooldae in Laerskool Pietersburg-Oos maak dit duidelik dat hy elke aspek van sy skoolloopbaan in ‘n ernstige lig be­skou het. In graad 7 is hy tot hoofseun verkies en hy het vir die skool se eerste hokkie-, rugby-, tennis- en krieketspanne uitgedraf. Hy het as o.12-rugbyspeler reeds Limpopo-kleure verwerf en tot onderkaptein van die o.13-Cravenweekspan ge­kies. Hy sluit sy laerskoolloopbaan op ‘n hoë noot af deur as Dux-leerder en Osie van die Jaar aangewys te word.
Van graad 8 tot 12 het hy provinsiale kleure in hokkie verwerf en is as kaptein van die o.18-Limpopohokkiespan verkies. Hy draf ook vir PHS se eerste hokkie- en rugbyspan uit en presteer in atletiek. Sedert graad 10 speel hy vir die eerste krieketspan, maar moes krieket aan die begin van sy matriekjaar prysgee om meer tyd vir akademie te maak.
“Dit is moeilik om ‘n goeie balans te handhaaf en ‘n mens moet so nou en dan nee sê. Dag in en dag uit was daar ‘n vol program met sport smiddae en huiswerk saans. Skool was nog altyd vir my lekker en ek is nie een dag spyt oor alles wat ek op skool aangepak het nie. Alhoewel akademie nie alles is nie, is dit die belangrikste, maar daar was klein dingetjies soos pouses en wisseltye se kort geselsies met vriende wat my tyd by die skool spesiaal gemaak het,” sê Daniel.
“Daar was nie ‘n oomblik wat ek gedink of gewens het dinge was anders by die skool nie. Elke jaar was lekkerder as die vorige jaar met matriek as hoogtepunt. Kardoesie was die beste en ek is sedert graad 9 ‘n dirigent en trots daarop dat ons graadgroep twee jaar agtereenvolgend as wenners aangewys is. Die matriekafskeid was die perfekte manier om skool mee af te sluit.”
Dit is geen verrassing dat Da­niel lank reeds vir die eindeksamen begin voorberei het nie. Omdat die rekordeksamen redelik moeilik was, reken hy dat die eindeksamen glad sal verloop, maar dat hy sy bedenkin­ge oor die Engelse vraestelle, veral Macbeth, het.
“Ongeveer 60% tot 70% se werk kan jy baas raak as jy net in die klas luister. Ons onderwysers is uitstekend. Dit is nie te laat om te begin leer nie, mits jy daarvan hou om dinge fyn te sny.
“My raad is om nou alles in te sit. Spandeer baie tyd agter die boeke, oefen tussendeur om jou te verfris en drink baie water. Daar is geen ander manier om sukses te bereik as op jou boude te sit en leer nie.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com