full screen background image
Damian Bye (13) van Suidskool word tydens ‘n sewesrugbytoernooi in Mauritius as Man van die Toernooi aangewys.

Damian Bye maak internasionaal naam in sewesrugby

440

Sedert hy as bulletjie op die veld gedraf het, het Damian Bye (13) alles tydens ‘n wedstryd ingesit en terselfdertyd het sy liefde en passie vir rugby tot so ‘n mate gegroei dat hy onlangs op internasionale vlak erkenning daarvoor ontvang het.
Dié graad 7-leerder van Pieters­burg Laerskool het tydens die September skoolvakansie aan ‘n sewesrugbytoernooi in Mauritius deelgeneem waar hy as Man van die Toer­nooi aangewys is. Wat sy prestasie noemenswaardig maak is dat hy as o.13-speler die pyp tussen o.14-spelers gerook het. Hy het ook gedurende die toernooi 19 drieë gedruk.
Twee mede-leerders, Johan Bosch en Zian Nel is ook vir die toernooi gekies.
Damian sê hulle is tydens die eerstespantoer in Witrivier raakgesien en tot een van vyf Suid-Afrikaanse spanne verkies om aan die sewes­toernooi in Mauritius deel te neem
“Dit was ‘n groot eer en voorreg en die toernooi was ‘n onvergeetlike ervaring. Ons het ses wedstryde gedurende die toernooi gespeel. Dit was nie maklike wedstryde nie, maar die ervaring kan met niks vergelyk word nie,” sê Damian.
Hy sê benewens die ervaring was dit wonderlik om nuwe vriende op die veld te maak – nie net van regoor Suid-Afrika nie, maar ook van die Mauritius-spanne.
Terwyl die meeste van die tyd deur voorbereiding vir die volgende wedstryd in beslag geneem is, sê hy een van die hoogtepunte was om in die see te gaan snorkel.
Met sy posisie as skrumskakel reken hy dat ‘n goeie sewesrugbyspeler vinnig op sy voete moet dink, die spel kan lees en spanmaats op strategiese wyse op die veld kan gebruik. “Fiksheid is sekerlik die grootste bydraende faktor tot enige sewesrugbyspeler se sukses. Daar is net sewe spelers op die veld, maar die veld bly standaardgrootte. Spoed op kort- en langafstande is ook baie belangrik,” sê Damian.
Volgens hom is spanwerk die belangrikste ding wat hy tydens die toernooi geleer het. “Jy kan nie alleen wen nie – jy het jou spanmaats nodig om vorentoe te dryf en punte bymekaar te maak.”
Damian het vanjaar Limpopo-kleure vir sewes- en vyftientalrugby verwerf en draf trots vir die skool se eerstespan uit. Hy het ook ‘n groot liefde vir hokkie en krieket en is lid van die skool se onderskeie eerste­spanne. Vanjaar het hy ook vir die eerste keer provinsiale kleure in hokkie verwerf.
Volgende jaar sluit Damian by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen aan. “Ek gaan beslis aanhou rugby speel en hoop om ook later vir dié skool se eerstespan te kan uitdraf.”
Sy rolmodel is Springbokspeler Handré Pollard en sy droom is om self eendag die groen en goud te kan dra.
Sy planne is om na skool fisioterapie te studeer en sal graag in sportbeserings wil spesialiseer.
Hy erken dat hy ‘n gemiddelde leerder op akademiese gebied is en vanjaar as onderhoofseun sy laerskoolloopbaan op ‘n hoë noot afgesluit.
“Suidskool het my geleer om altyd dankbaar te lewe en ek sal nooit al die lekker tye by die skool vergeet nie,” sê Damian.

Storie/foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com