full screen background image
Chinique Brown in aksie tydens ‘n byeenkoms vroeër vanjaar. Sy neem volgende jaar aan die o.20-Wêreldkampioenskappe in Kenia deel. Foto: Verskaf

Chinique Brown na o.20-Wêreld­kampioenskappe

658

Chinique Brown se talent en prestasies op die atletiekbaan het nie net vir haar ‘n reeks goue medaljes in die sak besorg nie, maar ook ‘n plek in die Atletiek Suid-Afrika (ASA)-span wat van 7 tot 12 Julie 2020 aan die International Association of Athletics (IAAF) se o.20-Wêreldkampioenskappe in Nairobi, Kenia gaan deelneem.
“My droom was nog altyd om die groen en goud te kan aantrek om sodoende ‘n goeie ambassadeur vir my skool, provinsie en land te wees. Nou het my droom werklikheid geword, maar ek besef dat dit harde werk vorentoe gaan verg en sien beslis kans daarvoor,” sê dié graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) oor haar prestasie.
Chinique vertel dat sy sedert graad 1 goue medaljes in atletiek begin verwerf het en in graad 9 besef het dat sy werklik ‘n groot liefde vir die sport het. Alhoewel sy tydens meeste byeenkomste met goud weggestap het, het sy besef dat sy nie meer op natuurlike talent kan staatmaak nie en haar ouers het vir haar ‘n afrigter begin soek.
Louis Schutte is tans haar afrigter en sy beskryf hom as iemand met absolute passie vir atletiek. “‘n Goeie afrigter is van kardinale belang veral as jy hoër as jou gemiddelde atleet mik. Ons staar soms vas in ‘n atleet se prestasies en vergeet van die afrigter wat dag vir dag langs die veld staan om ‘n atleet te vorm en te verbeter,” sê Chinique.
Volgens haar is ‘n goeie afrigter iemand wat goeie kennis het van enige item met eienskappe soos geduld, entoesiasme, motiveringsvermoë en toewyding.
Chinique is ‘n spogatleet in naellope en het vanjaar bewys dat sy vir niemand hoef terug te staan nie. Tydens die Janus Robberts Atletiekbyeenkoms verwerf sy goud in 100 m, 200 m en 400 m en verbeter die 100 m rekord. Sy word ook as meisiebaanatleet van die dag gekroon.
Tydens die atletiekbyeenkoms by Oos-Moot neem sy weer eerste plekke in bogenoemde drie items in met ‘n nuwe rekord in die 200 m.
Verder word sy die eerste Pietie wat dit regkry om ‘n rekord tydens Tuks Skole Top 10 Atletiekbyeenkoms te verbeter nadat sy goud in die 200 m verwerf het. Sy behaal ook eerste plek in die 100 m.
Tydens die Puk Interhoër in Germiston sowel as provinsiale interhoër by Hoërskool Merensky stof Chinique weer eens ander atlete in die 100 m, 200 m en 400 m uit en word tydens die provinsiale interhoër as Senior Victrix Ludorum gekroon. Sy het in al drie items gekwalifiseer om in Maart aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekbyeenkoms in Port Elizabeth deel te neem en verwerf silwer in die 400 m en brons in 100 m.
Om medaljes te verwerf en die ondersteuning van langs die baan te geniet is beslis die lekkerste deel van atletiek vir Chinique. “Daar gebeur net iets in jou hart wanneer jy hoor hoe mense jou naam uitskree en saam met jou bly is wanneer jy die wenstreep oorsteek. Die moeilike kant van atletiek is dat dit soms baie eensaam kan wees, veral omdat dit ‘n individuele sport is.”
Chinique beskryf haarself as iemand wat hard werk, gemotiveerd en positief is, goeie waardes en beginsels koester, sterk gelowig is en wat haar familie en vriende hoog ag. “Nederigheid is ook ‘n belangrike karaktereienskap van my. My ouers herinner my gereeld dat dit nie die medalje is wat my ‘n goeie atleet maak nie, maar om ‘n nederige hart en mooi gesindheid te alle tye te openbaar en om Sy ligdraer by elke byeenkoms te wees. ‘n Goeie naam is meer werd as goud,” sê sy.
Sy vertrou dat atletiek deel van die res van haar lewe sal wees en dat sy die universiteitspan sal verteenwoordig wanneer sy na skool verder gaan studeer.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com