full screen background image
Wenner van die Bybelvashou­kompetisie, graad 5-leerder van Akademie Reformia, Imke Nel.

Bybelleesmarathon goed ondersteun

308

Om vir twee uur en 30 minute ‘n Bybel vas te hou verg die soort deursettingsvermoë waarmee graad 5-leerder van Akademie Reformia, Imke Nel Saterdag tydens die Bybelleesmarathon by Savannah Mall vorendag gekom het.
Imke kon elke uur ‘n blaaskans neem om iets te drink en toilet toe te gaan maar het besluit om net aan te gaan en haar poging is beloon met ‘n splinternuwe Bybel in Praktyk.
Daar was nie ‘n tekort aan belangstelling nie en 115 lesers het altesaam 149 uur en 10 minute gelees. Die oudste leser was die 84-jarige Hannie Venter en ‘n groot aantal jongmense en kinders het hul plekke by die leestafels ingeneem.
Organiseerder van die marathon, Charmaine Diedericks sê dat 428 Bybels en kinderboekies beskikbaar was om te lees en dat die meeste daarvan aan besoekers geskenk is. “Die marathon groei elke jaar en verlede jaar het ons met 120 Bybels begin,” vertel sy.
Diedericks het die Hemelse Vader bedank vir die sukses van die geleentheid en ook haar dank teenoor Karen Botha en die bestuur van Savannah Mall en skenkers van die leesstof uitgespreek.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Anton White en Luka Sinden skep asem tydens die Bybelleesmarathon.

Ywerige lesers neem aan die Bybelleesmarathon deel.