full screen background image

Buitelugfliek vir ‘n goeie doel

306

Fliekvlooie het die voorreg gehad om twee van die hoofkarakters, Tim Theron en Liandie du Randt Bosch te ontmoet wat in die nuutste Afrikaanse film, Jagveld te sien is wat Vrydagaand op die buitelugskerm by Hoërskool Pie­tersburg (PHS) vertoon is.
Die hoofborge van die geleent­heid, BB Motorgroup en Aramex het gesorg dat die twee akteurs ‘n onvergeetlike tyd in Polokwane beleef het. Hulle is nie net in die stad se enigste vyfsterhotel getrakteer nie, maar het ook kans gekry om hul vernuf met gewere tydens ‘n kleiduifskietsessie te toets voordat hulle vroegaand aanhangers ontmoet en saam vir foto’s poseer het.
Organiseerder van die geleentheid, David Croukamp sê die geld wat geïn is, word aan Hoërskool Pietersburg (PHS) en Laerskool Pietersburg-Oos se hulpfonds vir minderbevoorregte leerders sowel as leerders wat berading of terapie nodig het, aangewend.
In ‘n onderhoud met Theron en Bosch kon hulle nie uitgepraat raak oor die gasvryheid van Polokwane-inwoners nie. “PHS se leerders is ‘awesome’. Dit is een van die aangenaamste skole waar ons nog gekuier het en ons is regtig verras oor die vriendelike mense,” het beide vertel.
Vir Theron was Jagveld sy eer­ste ervaring in ‘n aksiefliek. “Dit was ‘n fantastiese ondervinding met die ideale geleentheid om iets anders aan te pak. Ons werk tans aan ‘Vuil wasgoed’, ‘n kortfilm wat in 2014 as die beste Silwerskerm- kortfilm aangewys is en nou in ‘n vollengte fliek omskep word,” sê Theron.
Beide hoop dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf internasionaal sal groei en dat plaaslike talent toenemend naam in die buiteland maak.
“Ons droom is om mense te sien wat die Suid-Afrikaanse filmbedryf en sy karakters volgens internasionale standaarde hanteer en beoordeel. Jagveld is die eer­ste van sy soort en op internasionale standaard. Ons hoop om nog vele aksiefilms in sy spore te sien volg.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hoofakteur van Jagveld, Liandie du Randt Bosch neem selfies saam met PHS-leerders.

Tim Theron en Liandie du Randt Bosch wys hul slag met kleiduifskiet.

Fliekgangers begin vroegaand kom­berse en stoele regsit vir die buitelugfliek.