full screen background image
Hettie Bouwer jubel oor volkome herstel nadat sy kanker ‘n tweede keer oorwin het.

Bouwer slaan kanker twee keer bloedneus

753

Dit is van kardinale belang dat elke persoon wat met ‘n ernstige siekte gediagnoseer word soveel as moontlik inligting moet inwin en ingelig moet bly.
Aanvaar dat dit nie die enigste hulp en behandeling is wat jy kry nie en gaan vir ‘n tweede opinie, veral as dit kanker is.
Dié fundamentele inligting kan Hettie Bou­wer nou in terugskouing gee nadat haar paadjie die tweede keer met kanker gekruis het en sy harde skoolgeld moes betaal wat haar selfs haar lewe kon kos.
“In 2004 het ek een oggend in die stort ‘n knop so groot soos ‘n albaster in my linkerbors gevoel en is eers twee weke later dokter toe omdat dit glad nie seer was nie. My dokter het my vir ‘n mammogram verwys. Voor die operasie het ek reeds die vorm onderteken dat my bors verwyder kan word indien die gewas kwaadaardig is.”
Bouwer se bors is verwyder, maar as voorsorgmaatreël is chemoterapie aanbeveel en die biopsie daarna het gewys dat sy skoon is. “Ek was so bly, geseënd en dankbaar dat ek gesond is en weer ‘n kans gekry het.”
Toe sy in 2014 erge rugpyn ondervind, het die dokter haar vir X-strale gestuur en glo verkeerdelik vir vroeë osteoporose behandel. Die rugpyn het mettertyd vererger en in 2015 is sy na dieselde arts terug wat gesê het haar tussenribspiere is beskadig en het medikasie daarvoor voorgeskryf. In dié tyd het hy nooit bloedtoetse aanbeveel nie en die pyn het ondraaglik geword.
In Januarie 2016 is sy vir die eerste keer vir ‘n MRI-skandering gestuur waarna die dokter vir haar gesê het: “Jou kanker is ten volle terug. Twee van jou rugwerwels is ernstig beskadig en drie het kolle op.”
Een van die plaaslike onkoloë het chemo­terapie sowel as bestraling aanbeveel en gesê weens die ernstige aard van haar toestand moet sy so gou moontlik met behandeling begin. Hy het ook onderneem om haar binne ‘n dag of twee te laat weet wanneer die eerste behandeling is.
“Na ‘n volle twee weke wat ek niks van hom gehoor het nie het ek hom gaan sien omdat ek nie meer met my bekommernis kon saamleef nie waarna hy my net daar en dan na die chemoterapiekamer geneem het en behandeling begin het. Ek het hondsiek van die gekombineerde behandeling geword en kon feitlik niks eet nie en vrugteloos gevra of daar nie enigiets anders as toonbankmedisyne is wat vir my voorgeskryf kan word vir die naarheid nie.”
Na Bouwer se laaste behandeling het die onkoloog vir haar gesê dat sy skoon is en oor drie maande moet terugkom vir ‘n opvolg­ondersoek. Hy het glo net een keer in die vyf maande bloedtoetse laat doen en nooit die toetsuitslae bekend gemaak nie.
In die vyf maande van behandeling het Bouwer 12 kg verloor omdat sy feitlik niks kon inhou nie, sieker geword en aanhou braak het. Na haar laaste sessie het die suster by die praktyk vir haar medikasie gegee wat sy daagliks teen die naarheid moes gebruik wat sy nog nooit gesien of aan haar voorgeskryf was nie. “Toe ek vir haar sê ek ken dit glad nie en het dit nog nooit gebruik nie het die suster gesê sy dink nie dit is moontlik nie want dit is lankal deur die mediese fonds goedgekeur en werk naarheid teen.
Sy en haar man, Smokey was in die tyd in Pretoria en het besluit om vir ‘n tweede opinie te gaan omdat sy al ‘n geruime tyd grieperig gevoel het en baie gehoes het.
“By die hospital aangekom het die dokter onmiddellik bloed laat trek en X-strale laat neem. Binne 20 minute was die uitslae van albei beskikbaar met die hele geskiedenis van my behandeling op sy lessenaar.”
Volgens Bouwer het hy haar dadelik laat opneem en hoë dosisse antibiotika toegedien omdat haar witbloedseltelling so laag en haar infeksietelling baie hoog was.
“Dit is ‘n wonderwerk dat jy loop sonder probleme omdat jou werwels so beskadig is,” was sy woorde. Hy het binneaarse hormoonbehandeling toegedoen en ‘n pynstiller en medikasie teen die naarheid voorgeskryf wat sy volgens hom met die aanvang van haar chemoterapie en bestralingsbehandeling al moes begin drink het.”
Maandelikse besoeke het gevolg totdat die onkoloog in Januarie vanjaar vir haar gesê het: “Jy is ‘n genadegeval. Jou kankertelling is normaal en jy hoef net driemaandeliks terug te kom vir opvolgtoetse.”
Sy is dankbaar oor nog ‘n kans en sê haar ondersteuningstelsel het ‘n kernrol gespeel. “Smokey, my kinders, Chirestie en Ludwig, familie en vriende het my regop gehou. Ek het nooit moed verloor nie. Al was daar soms net grashalms het ek verbete geklou en geveg. God se genade is genoeg.”
Haar raad aan die gemeenskap is dat mens nooit die groot rol wat ondersteuners by kankerpasiënte speel, moet miskyk nie. “Hulle gaan deur dieselfde trauma en het ook ondersteuning nodig.”
Bouwer wil graag kankerpasiënte in die stad besoek, al is dit net om ‘n oor te wees. “So gesprek is dikwels makliker omdat jy weet die persoon voor jou is self daardeur.”
Sy kan by 060 975 5148 geskakel word.

Storie en foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com