full screen background image
Peter Blos is Vrydag in ‘n motorongeluk oorlede. Links is sy seuntjie, Favour (6), en regs, sy dogtertjie, Lelo (3).

Botsing eis gewilde onderwyser van Kruinies

919

‘n Skoolvakansie het tragies vir ‘n gesin geëindig toe ‘n talentvolle jong musiekonderwyser van Curro Heuwelkruin Vrydagdagoggend in ‘n trompop botsing met ‘n minibustaxi gesterf het en een van sy kinders kritiek beseer is.
Die ongeluk het op die ou Soutpanweg in Pretoria op pad na Soshanguve plaasgevind toe Peter Blos (29) en sy twee kinders, ‘n seuntjie, Favour (6), en sy sussie, Lelo (3), na ‘n besoek aan Peter se ouers in Pretoria na sy skoonfamilie in Soshanguve teruggekeer het. Sy vrou, Rachel, het hulle nie vergesel nie.
Volgens Peter se skoonsuster, Tebatso, het die ongeluk omstreeks 10:00 plaasgevind toe ‘n minibustaxi ‘n sperstreep verontagsaam en onwettig ‘n aankomende voertuig verbygesteek het. Die taxi het reg van voor met die Blosse se voertuig gebots en Peter is op slag dood.
Favour is in ‘n bedenklike toestand in die intensiewe sorgeenheid van Vusamed Hospitaal in Johannesburg waar hy aan ‘n ventilator gekoppel is. Lelo is in Butshilo Hospitaal naby die grootouers se woning in Soshanguve met geringe beserings opgeneem en moet vir mins­tens ses weke stabiel gehou word.
Tebatso het Dinsdag aan Polokwane Observer gesê dat Rachel so getraumatiseerd is dat sy nie met die media kan praat nie.
Die gedenkdiens vind Saterdag om 17:00 by Conquerors Through Christ Ministries in Soshanguve plaas. Peter het in Januarie by Curro Heuwelkruin aangesluit en was met die intrapslag ‘n gewilde kollega. Die leerders het van meet af aan aanklank by hom gevind en groot lof vir hom gehad.
Die hoof van Curro Heuwelkruin, Eben Lingenfelder, het hom as ‘n begaafde pianis en koorleier beskryf wat in een kwartaal talle Krui­nies vir musiek met sy onverbloemde entoesiasme en geesdrif gewen het.
Teen druktyd gister het Tebatso op navraag bevestig dat Favour se toestand steeds kritiek, maar stabiel is en dat Lelo se toestand sodanig verbeter het dat sy reeds teen Maandag ont­slaan kan word.
Leerders van Curro Heuwelkruin het gister in huldeblykboodskappe die volgende oor hom gesê:
Tania Rosslee: “Ek sal hom onthou as ‘n onderwyser wat altyd gelag het en vreugdevol was.”
Linné Nieuwoudt: “Hy was baie talentvol met musiek. Ek sal hom altyd in my hart onthou.”
Marnie Nel: “Ek gaan sy glimlag onthou en hom baie mis.”
Khomotjo Mehlape: “He was like a parent I never had. He was creative, know how to sing, played games with us and deep down he was the best. I thank him for being our teacher.”

Storie: WILLIE ESTERHUYSEN
>>willie.e@mwebbiz.co.za