full screen background image
Bossie Bosman op sy motorfiets waarmee hy na Egipte onderweg is.

Bossie op sy ysterperd na Egipte

169

Plaaslike motofietsliefhebber, Bossie Bosman (64) is tans met sy BMW motorfiets op ‘n lang alleenreis van ongeveer 36 000 km op pad na Egipte en sal na verwagting na sowat 120 tot 160 dae weer terug op eie bodem wees.
Polokwane Observer het hom verlede Donderdag besoek terwyl hy sy ysterperd vir dié uitdaging gepak het.
“Die motorfiets is sowat 10 kg oorgewig, maar ek weet nie waar om nog kilogramme te spaar nie en het reeds van sekere onderdele ontslae geraak om by die aanbevole 300 kg te kom,” sê Bosman en trek ‘n gespe oor sy bagasie vas.
Hy beplan om deur 12 lande na Egipte en terug ry waaronder Mosambiek, Zambië, Tanzanië, Kenia, Ethiopië en Sudan.
Om met ‘n motorfiets deur Afrika te toer is vir Bosman niks nuuts nie omdat hy verlede jaar 10 700 km binne 37 dae na Angola en terug afgelê het en in 2011 binne 62 uur om Suid-Afrika gery het.
“Ek het ‘n jaar gelede met die beplanning begin en met die hulp van Edrique Botha van die befaamde Voetspore-span saam met Johan Badenhorst het die droom ‘n realiteit geword,” sê Bosman. Botha wat Afrika verskeie kere per motorfiets deurkruis het, is Bosman se grootste inspirasie.
Bosman het ‘n splinternuwe motorfiets vir die reis aangeskaf en ongeveer R25 000 se modifikasies aangebring. Die motorfiets sal waarskynlik in Kenia, met die heen-en terugreis, en in Egipte gediens word.
“Benewens klere, ‘n tent en noodhulptassie bestaan die bagasie uit kos vir ongeveer 100 dae wat pasta, sop en proteïne in poeiervorm insluit. Ek neem nie net kos saam om te oorleef nie, maar omdat ‘n bord kos in die meer noordelike lande baie duur is.”
Bosman het in 1973 aan Hoërskool Pie­-
ters­burg (PHS) matrikuleer en by die destydse Pietersburg Lugmagbasis aangesluit waar hy as vliegtuigonderhoudswerktuigkundige opgelei is en vir 18 jaar in diens was. In Polokwane het hy bekendheid verwerf as die stigter, 26 jaar gelede, van ‘n goedgevestigde motorwerkswinkel wat vandag nog besigheid in die stad doen.
Die reisgogga het hom gebyt toe hy van 1980 tot 1988 aan motortydrenne deelgeneem het en toenemend sosiaal saam met individue en motorfietsklubs begin ry het waar hy verskeie mense ontmoet het wat Afrika alleen op ‘n motorfiets verken.
Bosman sal Polokwane Observer op hoogte van sy vordering en ervarings hou.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com