full screen background image

Blou Bulle trap klei teen Sharks in Polokwane

393

Groot opgewondenheid en afwagting het Saterdag tydens die opwarmingswedstryd tussen die Super Rugbyreeks se Cell C Sharks en Vodacom Bulls op die Peter Mokaba Stadion geheers.
Die pawiljoen was oorheersend blou, maar dit het nie die Sharks verhoed om ‘n oorwinning van 31-14 te behaal nie.
Die opwinding het reeds Vrydag tydens die Bulls se besoek aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé begin waar leerders hul gunste­lingspelers kon ontmoet. Spelers was gretig om saam met leerders vir foto’s reg te staan,
terwyl die Bulls se gelukbringer, Bulletjie, en Tommies se gelukbringer, Tier, mekaar met ‘n danskompetisie op die rugbyveld uitgedaag het.
Ongeveer 6 800 rugbyliefhebbers het vir die groot aksie op die stadion byeengekom waar hul eers met verskeie voorwedstryde tussen plaaslike skole en klubs bederf is. Pietersburg Laerskool en Laerskool Pietersburg-Noord Primary se o.10-spanne het mekaar aangedurf en na ‘n harde wedstryd met 40-elk gelykop gespeel. Dieselfde skole se eerstespanne het ook gewys waartoe hulle in staat is, maar Suidskool was te sterk en het met ‘n telling van 17-10 geseëvier.
Daarna het Goldwagen Noordelikes teen Northam Rhinos te staan gekom en Northam het met ‘n telling van 63-40 gewys hoekom hulle as verlede jaar se Boet Fickliga-wenners gekroon is.
Beide die Sharks en die Bulls het tydens die eerste helfte van die hoofwedstryd gesukkel om mekaar te troef. Die Sharks het eers in die 33ste minuut van die wedstryd daarin geslaag om oor die Bulls se doellyn te duik.
Net voor die halfeindfluitjie geblaas het, het die Bulls ‘n drie gedruk en die telling tot 7-elk te staan gebring.
In die tweede helfte het die Sharks met nog vier drieë geslaag waarvan Makazole Mapimpi twee en Marius Louw en Jacques Vermeulen elk een gedruk het. Curwin Bosch en Robert du Preez het onderskeidelik een en twee drieë verdoel.
Die Bulls se Manie Libbok en Jaco Visagie het elk ‘n keer agter die Sharks se doellyn gaan kuier terwyl Libbok en Marnitz Boshoff elkeen met ‘n doelskop geslaag het.

Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Sharks-speler, Kobus van Wyk baan sy weg langs die kantlyn af.

Tommie-leerder, Mariska Lourens saam met Bulls-spelers, Earll Douwrie en Aston Fortuin.

Die Sharks se Hyron Andrews en Bulls se Ruben van Heerden rank in die lynstaan.

Mashuku Masekoameng beur vorentoe terwyl sy spanmaat, Adriaan van Schalkwyk ondersteuning bied. Beide is van Suidskool se o.10-span.

Marius Verwey ontmoet ‘n aan­hanger, Hendrik Myburgh.

Arno Botha van die Bulls loop hom teen die Sharks-verdediging vas.

Die Vodacom Bulls-kaptein, Burger Odendaal vat vyf met ‘n Tom Naudé-leerder tydens die span se besoek aan die skool.

Suidskool se o.10-speler, Ricardo van Staden trek Noordskool se Tony Whitehead plat.

Noordskool se eerstespan-skrumskakel, Riaan Kayser, kry vinnig die bal by die agterlyn terwyl Neo Sephuma sy beweging dophou.

Mynhardt Smith, Noordelikes se kaptein, maak kontak met ‘n speler van Northam.

Mokgetwa Monyela van Noordskool se o.10-span duik oor die doellyn.

Damien Bye van Suidskool se eerstespan volspoed met die bal.

Logan Jonker van Suidskool probeer uit Tsiamo Boshego van Noordskool se greep kom.

Koning Janse van Rensburg van Noordelikes probeer losbreek van sy opponent.

Bulletjie en Tier, die Bulls en Tom Naudé se gelukbringers neem die voortou tydens die Bulls se besoek aan die skool.

Cheslin Freeman van Noordelikes ontvang die bal.

Noordelikes se Leroy Leroy gebruik ‘n gaping in Northam se verdediging.