full screen background image

Blink toekoms wink vir twee uitblinkers in die swembad

769

Twee swemmers van Eagar Aquatics Professional Swimming Academy, Sulé van der Merwe en Ude Fuchs, het onlangs tydens hul deelname aan die Suid-Afrikaanse Senior Kortbad Kampioenskappe in Pietermaritzburg bewys waarom hulle as van die stad se beste swemmers beskou word.
Sulé (16) het in agt verskillende items se finale rondes deelgeneem en met ‘n silwermedalje in die 200 m-rugslag en ‘n bronsmedalje in die 200 m-vlinderslag huis toe gekom.
Ude sê dat hy nie die nodige rustydperk voor die kampioenskappe geneem het nie, omdat hy tans besig is met sy voorbereiding vir sy deelname aan die Junior Wêreld Kampioenskappe, wat van 24 tot 29 Augustus in Singapoer plaasvind. Hy het ook in agt finale rondes geswem, maar geen medaljes gewen nie.
Douggie Eagar, afrigter van die twee swemmers, het verduidelik dat Ude die kortbadkampioenskappe as ‘n oefenlopie gesien het en nie sy voorbereiding vir die wêreldkampioenskappe vir dié kompetisie onderbreek het nie.
Die trotse afrigter het gesê dat die twee swemmers baie hard oefen en dat beide baie potensiaal het.
Hy glo hulle sal waarskynlik binne die volgende twee jaar in die Suid-Afrikaanse seniorspanne opgeneem word en selfs Suid-Afrika in die toekoms by die Olimpiese Spele verteenwoordig.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com