full screen background image
Wilson Dunster, tweede van links, en Elize Cawood, regs, ontmoet aanhangers Lawrence en Magda Anderson.

Bittersoet van oudword op planke in stad

794

Wanneer ‘n man sy geliefde Skyline, Lola, moet verkoop, ‘n vrou haar meubels en lappies in ‘n klein woonstelletjie moet laat pas en beide tussendeur nog sukkel om te onthou, is daar net een sin in die volksmond wat hul situasie na behore kan beskryf – oudword is nie vir sissies nie.
Die tsaar en doyenne van Suid-Afrikaanse dramakuns, Wilson Dunster en Elize Cawood, het verlede Woensdag hul nuutste eenbedryf, Die Wagkamer, tydens NG Kerk Bendorpark se jaarlikse kultuuraand na Polokwane gebring.
In dié stuk, geskryf deur Saartjie Botha en waarvan die regie deur Johan Engelbrecht hanteer is, ervaar die gehoor hoe twee oumen­se hul intrek in ‘n tehuis ervaar.
Die tragi-komedie het die gehoor aanvanklik laat kraai van die lag wanneer Bertie en Alfrieda hul nuwe omgewing leer ken, deur mekaar se brille aanskou en telkens skellend vir die nuwerwetse slimfoon wat een van hul kinders vir hul gegee het, skrik.
Later, soos die karakters ontwikkel en Cawood en Dunster se meesterlike vertolking vir Alfrieda en Bertie soos familie laat voel, word dit ‘n lag met ‘n traan. Uiteindelik moes elke lid van die gehoor die waarheid in die gesig staar, oudword is deel van menswees en dit is nie maklik nie.
Na afloop van die opvoering het ‘n lid van die gehoor, wat hardhorend is, opgemerk dat die egpaar se vertolking só uitstekend was dat sy nie nodig gehad het om elke woord te hoor nie. “Ek kon die emosie van die verhoog af voel spoel,” het sy verduidelik.
Cawood (65) en Dunster (72) is al byna 40 jaar getroud en ‘n formidabele span wat sedert 2006 die produksie van hul eie toneelstukke behartig. “Ons eerste stuk saam was Art of Charf. Daarna het Dinner for One gevolg en dit was so suksesvol dat ons Dinner for One 2 op die planke gebring het. Daarin het ons rolle omgeruil en aan die stuk ‘n Suid-Afrikaanse geurtjie gegee,” vertel Dunster.
Op ‘n vraag of hulle weer lewe in die Dinner for One-fenomeen sal wil blaas, sê hy baie mense vra dat hulle weer hierdie klassieke stuk sal opvoer, “maar ek raak nou te oud om so aanhoudend oor ‘n tier se kop te val.”
Die egpaar, wat beide vele bekende en langdurige rolle in plaaslike teater-, film en televisieproduksies vertolk het, onthou die goue jare van Suid-Afrikaanse televisie. “Die begrotings is deesdae van só aard dat mens reekse in rekordtyd moet voltooi,” vertel Cawood, wat bekend is vir haar rolle in Verspeelde Lente en, meer onlangs, Coconuts. “Ons het destyds meer as ‘n jaar lank aan Konings geskiet,” sê Dunster wat die rol van die wyse en geliefde Uncle Sid Keyser gespeel het.
Beide is van mening dat die enigste ma­nier om as akteur in Suid-Afrika te oorleef, is om jou eie werk te skep. “Om net te sit en wag vir oudisies gaan nie die pot aan die kook hou nie. Mens moet buite jou gemaksone beweeg en self die produksie van jou toneelstukke behartig,” sê Cawood.
Hul volgende aanbieding is weer eens uit die pen van Saartjie Botha, ‘n Geworry. “Die titel is misleidend. ‘n Geworry is nie soos ons gewone komedies nie. Dit is ‘n dramatiese stuk wat oor ouer wordende ouers en hul volwasse kinders handel en die dramatiese oop einde dwing die gehoor om oor spesifieke aspekte van menswees na te dink,” sê Dunster.

Storie & foto’s: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Wilson Dunster en Elize Cawood in karakter as Bertie en Alfrieda, die twee karakters in Die Wagkamer.

Marline Swart en Lulu Neethlingh bespreek Die Wagkamer na afloop van die vertoning.

Jolandie en Joré Benade is bewys dat oud en jonk Die Wagkamer geniet het.

Simeon en Christopher Strydom woon ‘n vertoning van Die Wagkamer by NG Kerk Bendorpark by.

Rose-Marie McCabe en Elmarie Geldenhuys kuier saam na afloop van Die Wagkamer.