full screen background image
Eskom het sedert die naweek weer beurtkrag ingestel.

Beurtkrag raak sake en huishoudings

332

Teen verwagtinge in het Eskom sedert Vrydag weer Fase 2 beurtkrag ingestel en besighede en huishoudings verplig om van kragopwekkers en alternatiewe energiebronne gebruik te maak of hul aktiwiteite te herskeduleer.
Groter besighede wat oor kragop­wekkers beskik, kon die ongerief bestuur en voortgaan om hul klante te bedien. “Ek betaal my kragrekening getrou en verwag dat die kragvoorsiener sy deel van die ooreenkoms moet nakom. Ek sou graag die koste van alternatiewe maatreëls van Eskom wou verhaal,” sê ‘n sakeman van die stad.
Die meeste klein ondernemings was verplig om hul deure te sluit of op ‘n beperkte basis met besigheid voort te gaan. “Ons het verpligtinge wat voor die jaarafsluiting nagekom moet word en verloor ure se produksietyd elke keer as die kragtoevoer onderbreek word,” sê ‘n plaaslike fabriekseienaar.
Huishoudings het in die algemeen die beurtprogramskedules nadergetrek en hul programme aangepas, terwyl gas- en batterygedrewe toestelle en kerse benut is.
Eskom se woordvoerder, Khulu Phasiwe het Maandag in ‘n persverklaring gesê dat beurtkrag waarskynlik eers teen Vrydag opgehef sal word. Hy het die instelling van beurtkrag toegeskryf aan beperkte opwekkingsvermoë wat die gevolg is van installasies wat buite werking is en die versekering gegee dat Eskom deurnag werk om kragvoorsiening te stabiliseer.
Eskom Limpopo se kliëntediensbestuurder, Hilton Rampedi, het gister (Woensdag) bevestig dat die moontlikheid van beurtkrag sterk is, maar dat die situasie hersien word wanneer omstandighede verander.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com