full screen background image

Beurtkrag effek op ekonomie wek kommer

2642

BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Dit is duidelik dat beurtkrag vir ‘n ge-ruime tyd Suid-Afrikaners se voorland gaan wees en die land se vermoë om die situasie te bestuur sal bepaal watter effek dit oor die langtermyn op die ekonomie gaan hê.
Plaaslike ekonoom, Glen Steyn verduidelik dat die ekonomiese grootte van ‘n stad deur die aantal transaksies wat plaasvind, verme-nigvuldig met die prys van die transaksies bepaal word.
Die aantal transaksies dui produktiwiteit aan en sodra beurtkrag ingestel word, word die transaksies minder en produktiwiteit neem af.
“Stelsels is ontwerp om ‘n bepaalde uitset gedurende ‘n agtuur werkdag te lewer en as die tyd wat beskikbaar is om te produseer verminder, word minder uitsette gelewer.
“Prosesse gaan staan en skade word berokken. Elke proses dra ‘n bepaalde aantal werksgeleenthede en sodra daar negatiewe druk op prosesse geplaas word, verminder produktiwiteit en wins en kan die bestaande hoeveelheid werksgeleendhede nie meer gedra word nie,” sê Steyn.
Ekonomieë krimp, koste styg en werksgeleenthede verminder wanneer die beskikbaarheid van elektrisiteit voortdurend onderbreek word.
Beleggings in nuwe besigheid kan ook nie goedgekeur word nie, want hulle het almal elektrisiteit nodig.
Daar word dus geen nuwe werksgeleenthede geskep nie, maar nuwe toetreders tot die arbeidsmark word jaarliks meer. Die vermoë om vir hulle werk te skep word ondermyn en die ekonomie word ‘n drukpot van toenemende werkloosheid wat tot frustrasie, woede, misdaad en groter druk op maatskaplike dienste lei.
“Die skade en ongerief wat almal tans beleef, kan vertroue in die bestuursvermoë van die regering beskadig. Huisgesinne en organisasies sal meer pro-aktief moet word om self hernubare krag vir eie gebruik op te wek en om alle vermorsing van elektrisiteit te identifiseer en uit te skakel.
Dit sal druk op die kragstasies verlig sodat gereelde onderhoud gedoen kan word, wat sal lei tot minder kragonderbrekings sodat die land weer op n positiewe groeispiraal kan kom,” is Steyn se mening.
“As ons land genoeg elektriese krag gehad het om aan die huidige vraag te voorsien, sou die ekonomie met minstens nog 0,5% per jaar gegroei het. Dit sou baie meer vertroue geskep het.”