full screen background image
Atlete loop reg voor ‘n spiesgooiatleet in tydens die Limsa kringbyeenkoms wat verlede Woensdag in die stad aangebied is.

Atletiekfiasko ’n gevaar vir atlete

582

Limpopo Skoleatletiek (Limsa) het bevestig dat ‘n ondersoek na die chaos tydens die kring- en areabyeenkoms verlede week gelas sal word om deurslaggewende probleme aan te spreek.
Benewens die ongerief en frustrasie wat die situasie inhou, is die ingrypendste aspek die gebrek aan addisionele veiligheidsmaatreëls wat ‘n groot gevaar vir atlete inhou.
Op meer as een geleentheid moes die veldbeampte tydens spiesgooiitems op atlete wat voor die spies inloop, skreeu om te verhoed dat hul getref word. Die spektrum van die spiesgooi, gewigstoot en diskus was slegs op die gras uitgemerk en geen addisionele sperlint is aangebring om atlete te waarsku nie.
‘n Atletiekkenner sê volgens atletiekreëls is dit nie nodig nie, maar dat dit die organi­seerder se verantwoordelikheid bly om addisionele voorsorgmaatreëls waar nodig in te stel om atlete se veiligheid te verseker.
‘n Tydhouer het tydens die kringbyeenkoms huis toe gegaan nadat die byeenkoms na meer as twee uur nog nie begin het nie. “Hulle mors tyd wat nie net beamptes en ouers affekteer nie, maar belangriker, die atlete.”
‘n Afrigter het aan Polokwane Observer gesê van sy atlete het ook huis toe gegaan. “Die grootste bekommernis is die langafstan­de soos die 5 000- en 3 000 m. Hoe later die byeenkoms begin, hoe warmer word dit wat weer ‘n groot impak op atlete se prestasie kan hê.”
Die departement van onderwys se woordvoerder, Sam Makondo, het die wanbestuur aan logistieke probleme toegeskryf. “Ons moes eers die atlete se veiligheid verseker voordat ons kon begin. Ons is bly die byeenkoms kon uiteindelik begin en al die items kon suksesvol voltooi word.”
Limsa-voorsitter Peter Maluleke sê hy is bewus van al die probleme. “Limsa is baie ongelukkig oor al die klagtes wat oor beide byeenkomste ontvang is. Ons weet die byeenkomste het laat begin en ons het kennis van die veiligheid van atlete geneem. Dit is totaal onaanvaarbaar,” het hy gesê.
Maluleke het atlete, afrigters en ouers gerus gestel en gesê die saak sal nie daar gelaat word nie, maar ‘n deeglike ondersoek sal na al die probleme gelas word. ‘n Vergadering sal ook belê word om skuldiges voor stok te kry.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com