full screen background image
Louis Scott, skrywer en publiseerder van ‘Hel toe en Terug’ op die beroemde bank in die Kwêla ateljee. (Foto: Voorsien)

Applous vir Louis Scott se boek kring tot op Kwêla-bank uit

1160

‘n Gedenkuitgawe ‘n eeu na die Eerste Wêreldoorlog (WO 1) uit die pen van Louis Scott, geskiedenisfoendi en stadsinwoner is ‘n suksesresep.
Na die bekendstelling van ‘Hel toe en Terug’ op 16 Augustus by Hoërskool Pietersburg, waar Scott korporatiewe bestuurder is, is 300 boeke binne 10 dae verkoop en bestellings en navrae oor Suid-Afrika het in so mate vir getekende eksemplare ingestroom dat ‘n herdruk tans gedoen word en dat Scott Sondag op die Kwêlabank oor sy eersteling gesels wat hy self gepubliseer het.
Wat die onderhoud met aanbieder, Hannes van Wyk, merkwaardiger maak, is dat dit op Poppy Day (Herdenkingsdag) uitgesaai word. Die rooi papawer (poppy) is ‘n internasionale herkenbare simbool wat die offers wat soldate en burgerlikes in oorloë moes maak, jaarliks op 11 November (of naaste Sondag) sedert WO 1 herdenk wat op die elfde uur van die elfde dag van die elfde maand in 1918 met die Duitsers se ondertekening van die wapenstilstand beëindig is.
‘n Verdere boekbekendstelling en gedenk­lesing vind Saterdag in die Erfenisstigtingsentrum by die Voortrekkermonument plaas met die klem op die Suid-Afrikaanse deelname in die oorlog en die onverskrokkendheid en manhaftige optrede van die 265 775 Suid-Afrikaanse soldate waarvan die jongste een, David Ross, slegs 14 jaar oud was toe hy gesneuwel het.
Johan van Zyl, boekeredakteur van Rapport, het na aanleiding van die twee berigte wat in Polokwane Observer oor Hel toe en Terug verskyn het ‘n resensie in Rapport van 16 September gedoen waaruit die Kwêla-onderhoud gevloei het.
Die volkleurboek in hardeband is teen R250 en die sagtebandweergawe (swart-en-wit) teen R120 by Scott 082 452 3507 beskikbaar.
Oorsprong van rooi papawer
‘n Kanadese dokter, John McCrae, het in 1915 ‘n roerende gedig, ‘In Flanders Fields’, geskryf na die begrafnis van sy vriend wat tydens die Veldslag van Vlaandere gesterf het toe hy sien hoe groot lappe papawers uit die vernielde aarde waar die veldslag plaasgevind het, groei.
Dié gedig het so ‘n groot indruk op Moina Belle Michael gemaak dat sy besluit het om die gedagte van gesneuwelde geliefdes lewend te hou deur rooi papawers te versprei.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com