full screen background image

Angservaring van leerder na ‘polisie’-roof

1336

“Terwyl ek op my knieë staan en die pistool teen my kop voel het ek net afgekyk, na die grond gestaar en gevoel hoe die lewe uit my liggaam tap.”
Dit is hoe ‘n matriekleerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) sy ervaring van Sondagaand beskryf toe hy op die hoek van Hoog- en Suid­straat voorgekeer en beroof is deur twee gewapende mans, wat voorgegee het dat hulle polisiebeamptes was.
Die leerder sê hy het laataand van ‘n vulstasie terug huis toe gestap toe die bestuurder van ‘n silwer Toyota Corolla by hom stop. “Hul het eers aanwysings gevra, maar ‘n passasier het uitgeklim, ’n pistool op my gerig en gesê ek moenie bekommerd wees nie want hulle is van die polisie. Die bestuurder het ook uitgeklim en my op my knieë gedwing. Hy het my deursoek en al my besittings afgeneem – selfoon, mes, sportsak en huissleutels.”
Een van die skurke het hom half opgehelp, maar weer gelos. “Die ander een het gesê ek moet loop. Ek het naby die motor probeer verbyloop om die registrasienommer te sien, maar hy het die pistool op my gerig, gevloek en gesê ek moet wegkom. Dis toe dat ek vinnig huis toe hardloop,” sê hy.
“Ek het gedink hulle gaan my doodmaak. Dit was asof een van die verdagtes in ‘n beswyming was. Sy oë was pikswart en hy het rondgeslinger. Ek het magteloos gevoel al wou ek baie graag terugbaklei,” sê die leerder.
“Ons het die polisie dadelik van die huis af geskakel en familielede en die GPF het die strate patrolleer op soek na die verdagte voertuig. Die hulp van die polisie was onaanvaarbaar. Die eerste oproep na 10111 is om 23:14 gemaak en die operateur het gesê hulle sal ‘n voertuig stuur. Om 23:34 het ek weer geskakel en dieselfde operateur het gesê daar is geen voertuig beskikbaar om uit te stuur nie. Om 23:36 het ek ‘n kolonel geskakel wat gesê het dit is onmoontlik dat daar nie voertuie be­skikbaar is nie. Minute later het ‘n majoor my teruggeskakel en nie lank daarna nie het ‘n voertuig opgedaag sodat ek my verklaring by die polisie kon aflê,” sê die leerder se pa wat al die oproepe op band vasgelê het sodat die 10111-operateur voor stok gekry kan word.
Die leerder sê baie van sy vriende loop ook laataand rond en sy raad aan hulle in soortgelyke gevalle is om te doen wat jou aanvaller sê. “Dit gebeur so vinnig. Gee jou samewer­king en moenie braaf probeer wees nie.”
Die provinsiale polisiewoordvoerder, Moa­tshe Ngoepe het die voorval bevestig en gesê ‘n saak van gewapende roof word ondersoek. Enigiemand met inligting kan die Polokwane polisiestasie by 015 290 6603 skakel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com