full screen background image
Die 15-jarige Andri Cronjé met die trofeë as beste algehele bestuurder in die Rookie-klas wat sy tydens Polo­kwane Oval Raceway se prysuitdeling ontvang het.

Andri Cronjé (15) maak skoonskip op ovaalbaan

1156

Wanneer motorenjins brul en bande teen hoë snelhede skreeu soos die rubber aan die teeroppervlak vasklou, begin die 15-jarige Andri Cronjé se hart vinniger klop, want dan kan sy agter die stuur van haar renmotor inskuif waar sy haar passie vir motorsport op die ovaalbaan uitleef.
Dié jong lid van Polokwane Oval Raceway wat volgende jaar graad 11 by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gaan aanpak, is tydens dié renklub se jaarlikse prysuideling as algehele wenner van die beginnersklas, bekend as ‘Rookies’, aangewys nadat sy die meeste punte gedurende die jaar bymekaar gemaak het.
Wat dié prestasie uitsonderlik maak is dat sy eers in Maart tydens die derde resies van die jaar begin deelneem het.
“My pa, André en my neef het ook aan ovaalresies deelgeneem en dit is waar my belangstelling in die sport begin groei het. Ek moes ook lank aan my pa karring voordat hy ingegee en vir my ‘n renmotor gekoop het,” sê Andri.
Sy is breëbors oor haar toekenning en sê dit is ‘n gepaste wyse om nie net harde werk nie, maar ook haar passie en liefde vir ovaalbaanresies te bekroon. “As ek agter die stuur is begin my hart sommer vinniger klop. Dit is ‘n wonderlike gevoel en niks maak dan meer saak nie. Ek fokus op die baan en sorg dat ek voor bly,” vertel sy.
Andri sê die beste van dié sport is die hoeveelheid adrenalien wat deur haar liggaam stroom en haar laat voel dat sy werklik lewe. Sy wil volgende jaar in die Stockrods-klas deelneem waar sy hoop om haar stempel af te druk.
Sy sê sy oefen byna daagliks gedurende die week voordat sy die Saterdag aan ‘n resies deelneem. “Ovaalbaanresies is meer as om net al in die rondte ry. Baie mense beskou dit as vervelig, maar dit verg lang ure se oefening om die tegniek te bemeester om perfek in en uit draaie te beweeg sonder om beheer oor die voertuig te verloor – dit terwyl jy ander bestuurders ook nog in ag moet neem.”
As jong meisie in ‘n sportwêreld gevul met mans, voel sy glad nie geïntimideer nie. “Die wêreld onderskat steeds vrouens op verskeie gebiede. Ek hoop om ‘n voorbeeld vir ander meisies en vrouens te wees en dit maak my baie bly om mense verkeerd te bewys.”
Sy terg haar ma, Natasha, wat tydens elke resies langs die baan in trane uitbars. “Ek is haar enigste dogter en sy is bekommerd wanneer ek op die baan is. Selfs mense langs die baan meen sy verskaf groot vermaak met haar gesanik.”
Volgens haar het ‘n goeie bestuurder passievolle liefde vir motorsport en moet baie tyd op die renbaan spandeer om die tegniek baas te raak. Sy meen ook ‘n bestuurder sal uitblink indien hy kalm en nederig bly en goeie sportmangees op en van die baan af toon. Haar advies aan jong bestuurders is om nooit moed te verloor en handdoek in te gooi nie en haar leuse is “Practise makes perfect.”
Andri is nog nie seker wat sy na skool wil doen nie, maar motorsport sal definitief ‘n groot rol speel. Haar droom is om eendag aan die Amerikaanse National Association for Stock Car Auto Racing (Nascar)-resies deel te neem.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com