full screen background image
Reece Wynne ontvang sy Speler van die Wedstryd-toekkening van Denzil Frans, ‘n afrigter van die Blou Bulle Maatskappy. (Foto's verskaf)

Alsydige Reece Wynne het groot rugbydrome

81

Wanneer Reece Wynne op die rugbyveld is verander sy omgewing in ‘n oorlogsveld waar hy sy taktiek noukeurig beplan om sy opponente te fnuik.
Die graad 11-leerder van Curro Heuwelkruin is ‘n buitengewone en veelsydige atleet en sportman wat verlede Dindag nog ‘n toevoeging tot sy prestasielys gemaak het toe hy as Speler van die Wedstryd tydens die Blou Bulle se jaarlikse Prestige Skole Rugby-aand aangewys is. Slegs uitgesoekte skole word jaarliks uitgenooi om mekaar vir blootstelling op die ikoniese Loftus Versfeld op te keil.
Tydens dié wedstryde word slegs hardlooprugby toegelaat, sê Kruinie-sporthoof, André Hay.
“Die speler van elke wedstryd is deur die Blou Bulle-bestuurspan wat afrigter, Nollis Marais insluit, gekies. Reece se uitstekende spel het nie net be­langstelling ontlok nie, maar hul het ook gesê dat hy ‘n talentvolle speler is wat dopgehou moet word,” sê Hay.
“In hul wedstryd teen Pretoria Technical High School het hy ‘n spoggerige drie gedruk en bygedra tot die span se 30-25 oorwinning. Slegs Curro Heuwelkruin en Hoërskool Ben Vorster is uit Limpopo genooi en Reece het behoorlik uitgehaal en gewys.”
Dit was die eerste keer wat Reece ‘n voet op Loftus se veld sit wat hy as ‘n onvergeetlike ervaring en groot eer beskryf.
Hy het as bulletjie sy debuut op die rugbyveld gemaak en sy liefde vir die spel het aanhou groei. As o.12-, o.13- en o.16-rugbyspeler het hy provinsiale kleure verwerf. Hy spog egter ook met Limpopo-kleure in hokkie en is ook een van drie leerders wat sedert Krui­nies se ontstaan ‘n Rektorsmedalje vir uitnemende prestasie in sport ontvang het. Vanjaar draf hy vir die skool se eerste rugby-, hokkie- en krieketspan uit.
“Ek geniet al die sportsoorte, maar sal rugby altyd eerste stel omdat kontaksport in my bloed is. Daar is geen beter gevoel as om oor die doellyn te duik nie. Elke wedstryd bied ander uitdagings en jou opponent kom nooit met dieselfde spelpatroon vorendag nie daarom moet mens altyd oopkop op die veld wees.”
As losskakel speel hy ‘n belangrike rol. “‘n Losskakel beheer die spel en kan dit vinnig opsom om ‘n besluit te neem. Hy kan ook ‘n beweging op die ingewing van die oomblik begin of halt. ‘n Goeie losskakel is ‘n leier op die veld en het uitstekende balbeheer,” meen Reece. Sy kosbaarste herinneringe is ‘n Beeldtrofee-finaal teen Morgenson Landbou Akademie in 2015 toe hy twee drieë gedruk het en Curro Heuwelkruin as wenners in die kleinskole-afdeling aangewys is.
Akademie is vir hom ook baie belangrik en hy handhaaf ‘n balans tussen sport en tyd agter die boeke, al beteken dit laat nagte.
“Na skool wil ek rugby speel. Ek sal graag sportwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria wil studeer terwyl ek rugby speel. Hopelik speel ek oor vyf jaar vir die Blou Bulle en dalk selfs eendag vir die Bokke,” sê hy sonder aarseling.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Reece Wynne in aksie tydens die Prestige Skole Rugby-aand wat verlede Dinsdag op Loftus Versfeld aangebied is.