full screen background image
Die toneel op die N1 buite Louis Trichardt waarin ‘n ma en kind doodgebrand het.

Agt dood in twee dae op provinsie se paaie

336

Drie ongelukke het van Vrydag- tot Saterdag­aand sewe lewens, waaronder ‘n 24-jarige ma en haar vierjarige kind wat op die N1 buite Louis Trichardt doodgebrand het, in Limpopo geëis.
Die ma en kind is Saterdagaand dood nadat hul Opel Corsa-bakkie teen ‘n Land Rover Discovery gebots en beide voertuie in vlamme uitgebars het. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die twee voertuie het in teenoorgestelde rigtings gery en trompop gebots. “Die bestuurder van die Land Rover het ernstige beserings opgedoen, maar dit is onduidelik wat die ongeluk veroorsaak het,” sê Ngoepe.
Vrydagaand is vyf mense in twee afsonderlike voorvalle buite Phalaborwa en Lephalale dood.
Twee is dood toe vier voertuie in ‘n ongeluk op die Markenpad betrokke was, ‘n Toyota Fortuner, Nissan NP200-bakkie, Volkswagen Golf en Opel Corsa-bakkie.
“Ons vermoed een van die bestuurders het ‘n ander op onveilige wyse verbygesteek wat tot ‘n kettingbotsing gelei het. Sewe mense is ernstig beseer en na nabygeleë hospitale geneem,” sê Ngoepe.
Drie vrouens is op dieselfde aand dood en 12 mense beseer na ‘n botsing tussen ‘n Toyota-sedan en Toyota Quantum taxi op die Mica-pad buite Phalaborwa. “Die voertuie het kop-aan-kop gebots en drie vrouens wat in die taxi was, is op die toneel dood,” sê Ngoepe.
Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag in al bogenoemde gevalle.
Saterdag is ‘n persoon op die Myngenoegen kleinhoewe in ‘n beweerde tref-en-trap ongeluk doodgery.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Een van die vier voertuie wat buite Lephalale gebots het en twee mense dood is.