full screen background image

Afri-duetfees slaan gehoor se asems weg

180

Konsertgangers was dit Vrydagaand eens dat die Afri-duetfees wat by Bolivia Lodge aangebied is, ‘n skouspel in eie reg was.
Kunstenaars wat reeds diep spore in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld getrap het, het saam met opkomende sangers verseker dat die program iets vir elkeen se smaak gebied het.
Die konsert was ‘n huldeblyk aan Carike Keuzenkamp, wat vanjaar 50 jaar in die vermaaklikheidsbedryf vier en Loriska Bubb, lid van die sangpaar Mwah! het die gehoor teruggeneem na die dae toe Keuzenkamp die gewilde ‘I love you Timothy’, geskryf deur Polokwane se eie Dopper Erasmus, emirituspredikant van NG Kerk Pietersburg-Noord, bekendgemaak het.
Veteraansanger, Manuel Escorcio, wat al meer as 40 jaar die land deurkruis vir konserte het die gehoor aan sy voete gehad toe hy saam met Nicholis Louw ‘n keurspel wat die lewendige ‘Funiculi Funicula’ ingesluit het, uitgevoer het.
Escorcio se duetmaat, Belia Lourens en Nico Strydom, Charlotte Killian, Helena Ceronio en Henry van Dyk het in ‘n verskeidenheid duette opgetree. Meer ernstige werke soos ‘Ons sal antwoord op jou roepstem’ deur Escorcio en Lourens en ‘Dein ist mein ganzes herz’ deur Ceronio en Van Dyk is aangevul met bekende treffers soos ‘Generaal’ deur Louw en Bubb en ‘Bartholomeo Diaz’ deur Escorcio en Lourens.
Begeleiding deur violis, Evert van Niekerk, Carel Henn op die tjello en pianis, Engeli le Roux het sprankel verleen en die vertoning is luisterryk afgesluit toe al die kunstenaars saam se weergawe van ‘Halleluja’ met ‘n staande ovasie beantwoord is. Die geleentheid is gehou om geld vir Koningskinders, ‘n inisiatief van die gereformeerde kerke van die stad, in te samel.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Nicholis Louw en Cassie Aucamp op die verhoog.

Loriska Bubb en Nicholis Louw sing ‘Generaal’.

Charlotte Killian en Nico Strydom vermaak konsertgangers.

Henry van Dyk en Helena Ceronio bekoor die gehoor met ‘Serah de Jager’.