full screen background image
Francois Brits aan die woord.

30 000 trek saam by Mighty Men

475

Vanjaar se Mighty Men Bushveld is deur die hoogste besoekers­getalle sedert dié byeenkoms sewe jaar gelede begin het gekenmerk.
Ongeveer 10 000 mans het sedert Vrydag na die Snymansdrift op die plaas buite die stad opgeruk en die plaas het Sondag uit sy nate gebars toe vrouens en kinders by die mans aangesluit het om na Angus Buchan te luister en die besoekerstal tot 30 000 gestyg het.
Organiseerder en plaaseienaar, Francois Brits sê hulle was geseën met ‘n wonderlike geesvervulde naweek. “Sprekers het goeie boodskappe gelewer wat ter harte geneem is. Geen onsmaaklikhede is aangemeld nie en ons het net positiewe terugvoer ontvang.”
Buchan se boodskap het oor nederigheid gehandel. “Die nederigste man ooit was Moses wat ongeveer 1 miljoen Israeliete uit slawerny in Egipte die woenstyn ingelei het. Ons het ‘n Moses in Suid-Afrika nodig omdat God hoogmoediges verafsku, maar nederiges genadig is.”
Aan die mans het hy gesê dat respek nie afgedwing word nie, maar verdien word deur nederig op jou knieë voor God te gaan. “Hoogmoedigheid breek huwelike op en vernie­tig vriendskappe. God sal nederige mense gebruik want hulle plaas ander mense eerste.”
Africa Mhlophe, ‘n pastoor van Port Elizabeth het gesê daar is geen onderskeid in God se oë nie. “Ons is almal sy kinders, ons is broers en is almal hier om een boodskap van God te ontvang,” het hy gesê.
Matt Ludick, pastoor van Namibië sê die hoogtepunt van die naweek was om te sien hoe generasies saamgekom het. “Pa’s, seuns en oupas kom hand aan hand hier aan met dieselfde verwagting om hul harte en lewens te verander. Na die naweek hoop ons dat hulle werklik in hul huise en werkplekke ‘n verskil sal maak. Mense moet nooit vergeet dat God genadig is nie en ons harte konstant met liefde vul.”
Mighty Men Bushveld 2018 word vir 9 en 10 Maart volgende jaar beplan.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto’s: Thinus du Toit
>>thinus@observer.co.za

Africa Mhlophe spreek die mans toe.

Angus Buchan praat oor nederigheid.

Matt Ludick lei met sang.

Lionel Liebenberg, Carel Roets en Timothy Roets is van Christian Motorcyclist Association van Johannesburg en het die Mighty Men Bushveld-konferensie bygewoon.

Die manne van Dust to Dust Ministries uit Johannesburg is netjies in hulle blou hemde.

Adriaan Kühn en Ronnie Botha van Polokwane het die naweek in ‘n bakkie oornag.

Lede van AGS Brakpan-Wes is op pad om na Africa Mhlope se boodskap te luister.

‘n Vroeë koffie om die koue te breek.

Francois Brits kyk toe terwyl Angus Buchan die gehoor toespreek.

Die gehoor tydens lofprysing.

Rekordgetalle besoekers woon die konferensie by.

Rick van Wyk lewer ‘n item.