full screen background image
Magdaleen de Klerk

16 Dae van niegeweld teen vroue en kinders

404

Die meeste mense assosieer ‘gesinsgeweld’ teenoor vrouens met fisiese en seksuele mishandeling. Die definisie van gesinsgeweld strek egter veel verder as dit en sluit onder meer verbale, emosionele en ekonomiese mishandeling in.
Ekonomiese mishandeling
Vir doeleindes hiervan wil ek op ekonomiese mishandeling konsentreer. Alvorens na die regsposisie in hierdie verband verwys word, is dit nodig om na sekere praktiese voorbeelde te verwys. Die realiteit is dat, nieteenstaande grondwetlike beginsels soos vryheid en gelykheid, vrouens in die arbeidsektor oor die algemeen steeds minder as mans verdien en dat vrouens steeds grotendeels die primêre versorgers van minderjarige kinders is. Terwyl die gades gelukkig getroud is, is dit nie ‘n probleem nie. Die probleme ontstaan eers wanneer die huwelik onherstelbaar verbrokkel het want dan het die vrou gewoonlik nie geld tot haar beskikking om alternatiewe akkommodasie vir haarself en die kinders te bekom nie. Die voertuig wat die vrou gebruik, om onder meer die kinders te vervoer, is in baie gevalle in die man se naam geregistreer en die maandelikse paaiement word deur hom betaal. Die gevolg is dat die vrou, hangende die finalisering van die egskeiding en in sommige gevalle selfs vir ‘n tydperk daarna steeds finansieel van haar man afhanklik is.
Met die verbrokkeling van die huwelik word die gades se sin vir redelikheid en regverdigheid baie keer deur emosies soos woede en pyn oorheers. Die kinders word noodwendig ook hierdeur geraak met die gevolg dat die egskeiding meermale uitgerekte duur litigasie tot gevolg het.
Regsposisie
Die regsposisie kan in ‘n neutedop as volg opgesom word: Een van die outomatiese regsgevolge van enige huwelik, hetsy binne of buite gemeenskap van goedere, is die wedersydse onderhoudsplig wat as gevolg daarvan tussen die gades ontstaan. Dit behels dat elke gade, in verhouding tot sy of haar inkomste, tot die huishouding moet bydra. Waar die man die broodwinner en die vrou ‘n tuisteskepper is, word die vrou se bydrae nie as ondergeskik aan die van die man beskou nie.
Dit is ‘n verdere outomatiese regsgevolg van die huwelik dat elke gade die reg het om die gemeenskaplike woning te bewoon en die bates wat daarin is, te gebruik ongeag wie die eienaar daarvan is of wie daarvoor betaal het. Die feit dat die gades nie langer saamwoon nie, doen nie noodwendig hieraan afbreuk nie.
Ten einde aan ‘n regsplig gevolg te verleen, moet dit by wyse van ‘n remedie afgedwing kan word. So byvoorbeeld kan die een gade (gewoonlik die vrou) in terme van die bepalings van Reël 43 van die Eenvormige Hofreëls, hangende die finalisering van ‘n egskeidingsgeding, op ‘n vinnige en bekostigbare wyse ’n hofbevel teen die ander gade (gewoonlik die man) bekom in terme waarvan laasgenoemde deur die hof gelas word om vir haar:
– Tussentydse onderhoud wat onder andere vir akkommodasie, vervoer en mediese onkoste voorsiening maak, te betaal;
– ‘n Voertuig en meubels tot haar beskikking te stel; en
– ‘n Bydrae tot haar regskoste te maak.
Die algemene beginsel wat in sodanige gevalle deur die howe toegepas word, is wat billik teenoor beide partye sal wees. Die gevolg hiervan is dat beide gades oor die algemeen hulle lewensstandaard sal moet verlaag omdat dit duurder is om twee huishoudings te onderhou. Dreigemente deur die man, dat indien die vrou hom sou verlaat, sy alleen in ‘n ‘kamertjie’ sonder vervoer sal opeindig is dus nie juridies gefundeer nie.
Die vrou is ook daarop geregtig om op dieselfde skaal as die man te litigeer. Daar sal gevolglik nie van haar verwag word om byvoorbeeld die Regshulpraad te nader terwyl haar man van die dienste van prokureurs en advokate gebruik maak nie. In sodanige omstandighede sal die hof gelas dat die man ‘n bydrae tot die vrou se regskoste maak wat haar in staat sal stel om op dieselfde vlak as hy te litigeer.
Benewens die regshulp in terme van Reël 43 kan die hof, afhangende van die partye se huweliksgoedere­bedeling, hangende die finalisering van die egskeiding, ook bevele maak wat die vervreemding van bates deur die een gade met die oog daarop om die ander gade by egskeiding te benadeel, verbied.
Die hof kan voorts, waar sodanige vervreemding (in geval van ‘n huwelik binne gemeenskap van goedere) reeds plaasgevind het, by egskeiding ‘n bevel vir ‘n ‘herberekening’ ten gunste van ‘n ‘benadeelde party’ ver­leen wat ten doel het om laasgenoemde uit die ander een se helfte van die eertydse gemeenskaplike boedel te kompenseer.
Artikel 10 van die Grondwet be­paal dat elke persoon ‘n reg op waardigheid het asook die reg dat sy of haar waardigheid beskerm word. Deur finansiële middele waarop ‘n vrou regtens geregtig is wederregtelik van haar te weerhou word nie alleen haar grondwetlike reg op waardigheid nie, maar ook haar reg op vryheid geskend.
Dit sal dus in belang van al die betrokkenes wees indien die partye in ‘n egskeidingsgeding billik en regverdig teenoor mekaar sal optree.
Magdaleen de Klerk
DDKK Attorneys Incorporated
Polokwane

Sien ook:
Limpopo shares in global 16 Days of activism